Local newsNews

Gemeenskapsvergadering oor misdaad gehou

Die polisie en inwoners van die Bela-Bela-omgewing is bekommerd oor die aantal diefstalle wat die afgelope ruk voorgekom het.

Die polisie en die Plaaslike veiligheidsreaksiespan (RSRT) probeer die boosdoeners vastrek, maar hulle is glo baie slinks.

Die polisie ondersoek verskeie voorvalle van motorbande en voertuie wat gesteel is. Daar was ook ’n hele paar inbrake by sakeondernemings en wonings, sê die polisie.
Om sake te vererger is daar verwarring onder inwoners oor wie die amptelike buurtwag in die dorp is.

’n Groep betrokkenes wat almal die belange van die Bela-Bela-inwoners se veiligheid op die hart dra, het verlede week met Die Pos oor dié kwessie vergader. Volgens die groep was Elri Arlow sedert 2015 die voorsitter van die Bela-Bela Crime Support-buurtwag (BBCS), waarna Awie Oberholzer die leisels oorgeneem het en Wernich Mostert het weer by hom oorgeneem.

RSRT, wat met die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), asook AfriForum geaffilieer is, is tans die buurtwag wat patrollies in Bela-Bela ry.

Daar is nou egter sprake dat BBCS met RSRT gaan saamsmelt. Die meeste van die oorspronklike BBCS-lede ry na verneem word nie meer patrollie nie.

Indien die twee buurtwagte saamsmelt, sal BBCS se noodgroepe steeds aktief bly, is tydens die gesprek gesê.

Meer inligting oor buurtwagte en misdaad in die omgewing sal op Woensdag 22 Augustus tydens ’n gemeenskapsvergadering met inwoners bespreek word.

Die vergadering begin om 18:00. Die plek waar die vergadering gehou word, sal binnekort bekendgemaak word.

“Dit gaan oor misdaadvoorkoming,” het kol. Lindie Marx, Bela-Bela-stasiebevelvoerder, gesê.

Die polisie en noodgroepe moedig inwoners aan om die vergadering by te woon en deel te word van die veiligheidstrukture van die dorp.

Related Articles

Back to top button