CrimeNews

Vakansiegangers wéér besteel

“Hulle is egter baie uitgeslape en het in die bebosde omgewing weggekom.”

Booswigte is blykbaar bedrywig in die omgewing van Turfbult (naby die Settlers-oorbrug), maar dié omgewing se veiligheidsgroepe sê hulle is paraat en sal alles in hul vermoë doen om die kwaaddoeners vas te trek.

Die Pos verneem twee nuwe diefstalgevalle het tussen Vrydag 10 Augustus en Saterdag 11 Augustus by die Sondela-natuurreservaat buite Bela-Bela plaasgevind. Dit volg skaars ’n maand nadat vakansiegangers van Pretoria in ’n wooneenheid by dié reservaat besteel is terwyl hulle geslaap het.

Volgens die Bela-Bela-polisie het twee gesinne van Pretoria in die jongste voorval ook die Vrydagaand gaan slaap en die volgende dag agtergekom dat hulle besteel is. Kameratoerusting, skootrekenaars, selfone en kontant is onder meer gesteel.

Die diewe het na wat verneem word vensters by die wooneenhede oopgebreek en só toegang tot die wonings gekry, sê die polisie.

Albei voorvalle het by die Makhato-ontwikkeling by Sondela plaasgevind.

André van Staden, van die Makhato-bestuur, wou nie kommentaar oor die voorvalle lewer nie.

Intussen het Corrie Nelson van die Turffontein-buurtwag by navraag aan Die Pos gesê booswigte, wat moontlik dieselfde groep mense kan wees, het ook op Dinsdag 7 Augustus twee ander eiendomme naby Sondela op die R516 na Settlers besteel.

Volgens Nelson het ’n groep buurtwaglede die booswigte voorgelê en agterna gesit.

“Hulle is egter baie uitgeslape en het in die bebosde omgewing weggekom.”

Die diewe het by ’n stoor, by wonings waar studente woon en by ’n gereedskapkamer ingebreek en duisende rande se gereedskap en items gesteel.

“Misdaad is eintlik baie stil in hierdie omgewing, behalwe vir dié enkele voorvalle. Ek dink die diewe weet wanneer daar vakansiegangers in die omgewing is en slaan dan op niksvermoedende mense toe. Ons sal almal net meer veiligheidsbewus moet raak.”

Nelson het gesê meer mense behoort by die buurtwagte betrokke te raak, want dit is onmoontlik om op twee plekke tegelyk te wees en misdaad só te bekamp.

Die polisie ondersoek die voorvalle.

Inwoners of besoekers wat iets verdags in die omgewing opmerk, word gevra om vir Nelson te bel by tel. 082 574 3811 of die Bela-Bela-polisie by tel. (014) 736 9760/1.

Related Articles

Back to top button