LettersOpinion

Só word onteiening gewettig

Daar is min of geen ruimte nie om konstitusionele wysigings te betwis wat deurgevoer is. Die Grondwetlike Hof bepaal dat ’n wysiging volledig deel van die Grondwet is.

Karel Niewenhuis, adjunkprovinsiale leier: Vryheidsfront Plus, skryf:

Die wysiging van art. 25 van die Grondwet kan nie plaasvind op grond van druk van ’n gewaande meerderheid nie.

Voorgeskrewe prosedures, soos vereis in art. 74, moet gevolg word.

Daar is min of geen ruimte nie om konstitusionele wysigings te betwis wat deurgevoer is. Die Grondwetlike Hof bepaal dat ’n wysiging volledig deel van die Grondwet is. Derhalwe doen ek ’n beroep op lesers om nie onkundig te wees oor die erns van die proses en die uiteinde daarvan nie.

Kortliks verloop die proses soos volg: Die regering moet ’n voorgestelde wysiging bewoord en motiveer in die Staatskoerant om die wysiging vir openbare kommentaar oop te stel. Terselfdertyd word die besonderhede aan die Provinsiale Wetgewer voorgelê en eers ná 30 dae aan die Nasionale Vergadering. Die regering moet ook enige geskrewe kommentaar van die publiek, en dié van die voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, aan die speaker voorlê. Art. 59 en 72 vereis dat die Nasionale Vergadering en Nasionale Raad van Provinsies openbare deelname ten opsigte van wetgewing sal fasiliteer.

Bostaande word versterk deur die Grondwetlike Hof wat redelike optrede vereis om te verseker dat die stemme van gewone mense gehoor word. Hoe belangriker die wetgewing, hoe groter die openbare belangstelling en hoe meer druk om openbare betrokkenheid te fasiliteer.

Stemming in die Nasionale Vergadering vind plaas ná die verloop van ’n verdere 30 dae. Die wysiging moet nou deur minstens tweederdes van die lede van die Nasionale Vergadering (267 lede) gesteun word en minstens ses van die nege afgevaardigdes van die Raad van Provinsies. Aangesien die ANC agt van die nege provinsies regeer, is hierdie ’n klinkklare oorwinning. Maar die ANC het 249 setels in die parlement en het dus die steun van nog 18 lede nodig. Die moontlikheid bestaan dat pres. Cyril Rama-phosa die EFF se voorwaarde, om alle grond te nasionaliseer, sal aanvaar om só ’n meerderheid te kry. Die alternatief is om die vernedering te sluk dat die wysig-ing nie deurgaan nie.

Eers wanneer die wysiging deur al hierdie stappe is, word dit na die president vir ondertekening verwys.

Openbare deelname sal tydrowend wees; formulering en motivering van die wysiging is ingewikkeld sodat dit bevraagteken kan word of dit aan die regering die groenlig sal gee om grond sonder vergoeding te onteien. Die hoofdoel van die wysiging gaan in elk geval om groter mag te verkry en nie oor duidelikheid nie. Terselfdertyd word die indruk gewek dat daar na willekeur aan die Grondwet gepeuter kan word terwyl internasionale regsbeginsels oor die hoof gesien word.

Tot dusver was die proses ’n uitmuntende voorbeeld van verdraaide redenasies, onge-verifieerde feite en vaagheid oor die wysig-ing. Die kersie op hierdie onverkwiklike koek is die moontlike oormerk van plase vir onteiening sonder vergoeding.

Uiteindelik sal Ramaphosa tussen die oppergesag van die reg en populisme moet kies. Anders gestel: tussen sy posisie in die ANC en die land.

In die proses rig hy die ekonomie onmeetbare skade aan sodat dié wat nou so hard skree vir die wysiging van art. 25 teen die-selfde eens magtige ANC sal draai.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button