Local newsNews

Amerikaanse swartbere nou by dierepark

’n Dierepark in die hartjie van die Waterberg spog van Woensdag 1 Augustus met twee nuwe inwoners.

Die twee Amerikaanse swartbere is vermoedelik die eerste in hul soort wat hul tuiste in Limpopo gevind het.

’n Verheugde Erich Venter, eienaar van Eventiera Wild Life Park buite Vaalwater, het die twee swartbere, Koda en Daisy, op sy 69ste verjaarsdag en die herdenking van die park se negende bestaansjaar ontvang. Die twee bere is deur privaat eienaars van die Vrystaat met die hand grootgemaak.

Venter het die park nege jaar gelede begin toe hy ’n leeuwelpie op sy verjaarsdag as ’n geskenk ontvang het.

Die beerkamp is ’n toevoeging tot talle ander hokke wat gerehabiliteerde en weesdiere bevat, asook skaars diere wat nog nooit tevore lewend deur mense in die land gesien is nie, het Melody Koekemoer, parkbestuurder, aan Die Pos gesê.

Venter het vertel dat Daisy en Koda ’n paartjie is en dat die bere net tot 10-jarige ouderdom welpies kan kry. Die bere het tot dusver nog nie welpies nie. Swartbere kan een tot drie welpies kry en hulle is vir sewe tot agt maande dragtig. Hulle kan tot 25 jaar oud word.

Die Amerikaanse swartbeer is ’n omnivoor, maar hul dieet sluit ’n klein hoeveelheid vleis in. Hulle eet ongeveer 10 kg kos per dag, het Koekemoer gesê. Sy het verder gesê dat hulle oorsee soms as lastig beskou word wanneer hulle in asblikke begin krap vir kos.

Die Amerikaanse swartbeer is familie van die Himilaya-swartbere. Volgens die webtuiste Animal talk het die Himilaya-swartbeer ’n wit merk oor sy borskas wat soos ’n sekelmaan lyk. Net 25% van die Amerikaanse swartbere het dié merk en daarom staan hulle ook as maanbere bekend. Die bere hiberneer in koue plekke, maar nie wanneer hulle in warmer omgewings is nie.

Die nuwelinge se tuiste by Eventiera is ’n baksteenskuiling met twee kamers. Daar is ook ’n swemplek en bome met ’n band vir klim en klouter. Met Die Pos se besoek aan die park het die bere hul nuwe tuiste getoets en telkemale regop gestaan om in die lug te snuif. Koda het selfs vir ’n rukkie in die nuwe swemplek geklim voordat hy, tot almal se vermaak, in die hoogste boom geklim en gemaak het asof hy nie kan uitkom nie.

Related Articles

Back to top button