BlogsOpinion

Hoofartikel: Maak my tog U hart se punt

“Dit het voorheen al baie, báie slegter met ons land gegaan as wat julle dink.”

Meer as ’n dekade gelede het ek een Sondag ’n kerkdiens in die NG Moedergemeente Warmbad byge-woon waar ’n gaspredikant gepreek het.

Die dominee het vertel van die tyd kort ná die Anglo-Boereoorlog toe dit baie sleg met Suid-Afrikaners gegaan het. ’n Hele generasie mense moes uit die as opstaan. Baie van hulle se plase is gewelddadig deur die Engelse afgeneem, hul besittings afgebrand of verwoes, hul vroue en kinders verneder en in konsentrasiekampe gestop om van die honger en ellende te sterf. ’n Hele nasie was tot in die gebeente getraumatiseerd deur die gebeure.

Daardie jare was Australië of Londen nie ’n opsie, ’n wegkomkans, ’n uitvlug nie, het die dominee vertel. Want hierdie mense was Suid-Afri-kaners. Hulle het die aarde liefge-had. Die gemeente het aan sy lippe gehang.

Vanuit die begraafplase, karige kombuise, tente in die veld en om die etenstafels het stemme verrys wat die Here loof en prys, het die dominee vertel. In die skole, by vergaderings en tydens kultuurfeeste is Sy naam groot gemaak en het mense gesê die Here is ál waaraan hulle vasklou; ál plek waar hul hulp vandaan kom.

’n Beduidende aantal mans wat as krygsgevangenes uit plekke soos St. Helena huis toe gekom het, het hul lewens aan die Here gewy en sendelinge geword.

“Dit het voorheen al baie, báie slegter met ons land gegaan as wat julle dink,” het die dominee vir die gemeente gesê. “Die verskil vandag is net: Tóé het ’n hele nasie na God gedraai.”

Daardie “opstaan” van Suid-Afrikaners ná daardie verwoestende oor-log was eintlik niks minder as ’n wonderwerk nie, besef ’n mens nou.

Om by ’n Suid-Afrikaanse koerant te werk en positief te bly, is deesdae ’n reuseuitdaging.

Mense is terneergedruk, moedeloos, hatig teenoor mekaar, onverdraagsaam. En iewers in die middel bevind jy soms jy het, soos oud-koerantman Willem Wepener dit gestel het, die “brandsiek-inspekteur van die volk” geword.

In my huis het ’n tienerkind die afgelope week verjaar. Ek het stapels ou sonarfoto’s, kaartjies en briefies gaan uithaal en saam met hom deurgeblaai. En op dié nota afgekom wat ek jare gelede ge-maak het nadat ek die aand by hom gesit het terwyl hy bid. “Daneel (5) bid vanaand: Ag liewe Jesus, moet my tog nie wegstoot nie en maak my tog U hart se punt.”

Dit is my wens met dié week se redakteursbrief dat Die Pos se lesers ook iets van dié onskuldige gebed van ’n vyfjarige sal ervaar.

Related Articles

Back to top button