LettersOpinion

Iemand het hul plig versuim

Plaaslike lisensiekantore het nie die gespesifiseerde papier waarop motorlisensies gedruk kan word in voorraad nie.

Karel Niewenhuis, Vryheidsfront Plus: adjunkprovinsiale leier, skryf:

Swak dienslewering in die departement van vervoer het onlangs ’n nuwe laagtepunt bereik.

Plaaslike lisensiekantore het nie die gespesifiseerde papier waarop motorlisensies gedruk kan word in voorraad nie. Die lisensiekantore van Thabazimbi, Vaalwater en Mokopane is ter sprake. Gevolglik word mense daagliks weggewys en hulle moet van die een na die ander dorp ry om lisensies te bekom.

Hierdie stand van sake het aan die lig gekom toe die VF+ navraag by lisensiekantore gedoen het en meegedeel is dat die kantore geruime tyd reeds ’n tekort aan papier ervaar waarop lisensiedokumente gedruk word.

’n Besoek aan ’n lisensiekantoor is vir elke voertuigeienaar ’n noodsaaklike euwel. Die negatiewe waarmee ’n mens gekonfronteer kan word, soos te veel kliënte vir die aantal amptenare en stukkende toerusting, kan uit die weggeruim word.

Die hoofdoel is dat ’n mens baie dankbaar met ’n wettige lisensie daar sal uitstap. Indien daar geen papier is waarop hierdie lisensie gedruk kan word nie, is dit nie moontlik nie.

In die groot ratwerk van hierdie administra-sie het iemand ooglopend nie sy of haar plig nagekom nie. Die plaaslike verkeershoof se bestuurstyl kan eweneens bevraagteken word. As verantwoordelike beampte behoort hy toe te sien dat ’n situasie soos hierdie nie ontstaan nie.

Die gevolg is frustrasie vir Jan en alleman, die eienaars van nuwe voertuie en motorhandelaars wat lisensiëring as ’n diens aanbied. Weinig mense dok geredelik op om onnodig ver te ry om ’n lisensie te kry. Geld en tyd hou hande vas sodat die meeste mense ook erg gefrustreerd is wanneer hulle ure moet afstaan aan iets wat nie te ’n groot hap uit hulle dag behoort te neem nie.

Die VF+ beoog om druk op die departement van vervoer te plaas om summier aan-dag te gee aan hierdie stand van sake. Dit behoort nie net opgelos te word nie, maar maatreëls moet getref word om ’n herhaling hiervan te voorkom.

Related Articles

Back to top button