Local newsNews

Bela-Bela-inwoner dood ná varkgriep

“Hy was ’n passievolle mens en was altyd daar vir almal. Hy het ’n goeie gesindheid teenoor almal gehad en was daar indien mense hom nodig gehad het.”

Johan Achenbach (64) van Bela-Bela is op Maandag 23 Julie in die Moot-hospitaal in Pretoria oorlede weens orgaanversaking nadat hy met varkgriep (H1N1-virus) gediagnoseer is.

Volgens sy familie is dit nog onduidelik waar hy die siekte opgedoen het.

Sy vrou, Margaret, het gesê haar man was ’n diabeet en sy gesondheid het voor sy afsterwe drasties versleg. Hy was vir langer as drie weke in die intensiewesorgeenheid van die hospitaal, het Margaret gesê.

Volgens haar was haar man sy hele lewe lank gesond en het hy nooit die binnekant van ’n hospitaal gesien nie.

Johan is in Namibië gebore. Hy en sy gesin het destyds na Bela-Bela verhuis en hy was ’n leerder aan Laerskool Warmbad en het aan Hoërskool Tom Naudé in Polokwane gematrikuleer.

Hy het ná skool twee jaar diensplig by die Suid-Afrikaanse weermag voltooi, waarna hy ’n masjienmonteurder by Yskor en toe ’n senior hoofbestuurder by ’n atoomenergiemaatskappy geword het, het Margaret gesê.

Die egpaar was 44 jaar getroud en het ’n seun en dogter. Margaret het aan Die Pos gesê hulle het mekaar vandat hulle vyf jaar oud was, geken.

Hulle het 12 jaar gelede na Bela-Bela verhuis en die afgelope vier jaar by die Emmerentia Geldenhuys-wooneenhede buite die dorp gewoon. Johan was voor sy dood die bestuurder daar.

“Hy was ’n passievolle mens en was altyd daar vir almal. Hy het ’n goeie gesindheid teenoor almal gehad en was daar indien mense hom nodig gehad het,” het sy familie gesê. “Niks was ooit vir hom teveel nie. Die woord nee het ook nie in sy woordeskat bestaan nie.”

Johan se roudiens het op Donderdag 26 Julie om 13:00 vanuit die NG Warmbad Wes-gemeente plaasgevind.

Ds. Willie Potgieter, leraar by die NG Warmbad Wes-gemeente, het gesê Achenbach sal vir sy betrokkenheid onthou word.

“Hy was leierouderling, voorsitter van die getuieniskommissie, voorsitter van die bedieningskomitee, het sendings na België gereël, asook teoloë in Mosambiek help oplei. Hy was veral by die plaaslike Moine-gemeente betrokke.”

Potgieter onthou vir Johan ook as die hart en siel van die kerk se dankofferfeeste.

“Dit was danksy sy administratiewe vernuf dat ons kerk geestelik gegroei het, want danksy hom het kommunikasie in die gemeente gegroei. Ons gaan hom baie mis.” Hy laat sy vrou, seun, dogter, en twee kleinseuns agter.

Die familie wil graag vir di. Potgieter, Theuns Kriek, die kerkpersoneel, die vroue wat die verversings gereël het, asook Louis Müller wat die familie veral bygestaan het, bedank, asook elke persoon vir hul gebede en ondersteuning.

* Luidens ’n verklaring van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) is 523 pasiënte vanjaar met die H1N1-virus gediagnoseer. Hierdie virus is oor die afge-lope agt jaar op plekke regoor die wêreld geïdentifiseer en pasiënte het dieselfde simptome as seisoenale griep, sê Nios. Nios raai mense aan om gereeld hande te was en om hul hand voor hul mond te hou wanneer hulle hoes. Mense met griepsimptome word aangeraai om ’n dokter te spreek en om nie aan sport deel te neem nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button