MunicipalNews

Bela-Bela se krane onverwags toegedraai

Agterstallige munisipale skuld het na bewering daartoe gelei dat Bela-Bela se inwoners, veral dié in Panorama Park, sedert Vrydag 20 Julie sonder water is.

Die Bela-Bela-munisipaliteit skuld Magalies Water derduisende rande wat daartoe gelei het dat die watervoorsiener toevoer na die bodorp laat toedraai het. Inwoners het Die Pos sedertdien gekontak en gekla dat dit onregverdig is dat hulle vir dienste betaal, maar die gevolge van die munisipaliteit se skuld moet dra.

Tinus Ras, DA-raadslid, het by navraag gesê die munisipaliteit het reeds R800 000 aan Magalies Water betaal, maar skuld die waterverskaffer nog ongeveer R1 miljoen.

Ras het verder gesê die prosedure om inwoners vroegtydig in kennis te stel van sy voorneme om die krane toe te draai, is nie gevolg nie, het Ras gesê.

As ’n noodmaatreël het die munisipaliteit besluit om die reservoirs se watervloei na die bodorp op Dinsdag 24 Julie toe te draai.

Dit het sonder enige kennisgewing plaasgevind.

Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, het teen druktyd gesê dit is gedoen sodat die reservoirs ’n “gepaste watervlak kan bereik”.

“As ons nie die watertoevoer na die dorp toegedraai het nie, sou die watervlak in die reservoirs te laag gewees het. Dit sou veroorsaak het dat inwoners vuil water, wat van die bodem van die reservoirs kom, in hul krane gehad het. Sodra die afval in die reservoirs gesak het, sal die watertoevoer na die dorp herstel word,” het hy gesê.

Hy het gesê hy kan nie kommentaar lewer oor die bewerings dat die munisipaliteit geld aan Magalies Water skuld en die dorp se waterprobleem om daardie rede vererger het nie.

Vergaderings het reeds tussen die munisipaliteit en Magalies Water plaasgevind, maar geen oplossing is teen druktyd gevind nie, het Mosito gesê. Inwoners in die omgewing was teen druktyd steeds sonder water en volgens inwoners was die drukking in die krane op party plekke uiters laag.

* Munisipale verslae het voorheen aangedui dat Bela-Bela 55% van sy water vanaf die Warmbaddam en 45% vanaf Magalies Water ontvang.
Ras het gesê hierdie syfers het moontlik verander.

Inwoners is reeds bekommerd oor die hoeveelheid water wat weens gebarste pype in die dorp en weens wangebruik verlore gaan. Die kapitale projek om die ou infrastruktuur met nuwe pype te vervang, is nog nie voltooi nie en tot dan is slaggate Bela-Bela-inwoners se voorland. Die munisipaliteit het gevra dat inwoners geduldig moet wees met die gate terwyl die kontrakteurs nuwe pype lê.

Volgens die munisipaliteit se begroting is daar begroot om die suiweringswerke in die dorp op te gradeer.

Related Articles

Back to top button