LettersOpinion

Politieke voorspellings byna onmoontlik

Voorspellings is bykans onmoontlik in die onstuimige politieke klimaat waarin Ramaphoria net nog ’n vae geur is.

Karel Niewenhuis, adjunkprovinsiale leier: Vryheidsfront Plus, skryf:

Die een se dood is die ander se brood, is ’n spreekwoord wat soos nooit vantevore op Suid-Afrika se politiek van toepassing is nie.

Voorspellings is bykans onmoontlik in die onstuimige politieke klimaat waarin Ramaphoria net nog ’n vae geur is. Volgens die marknavorsingsfirma Ipsos is hul onlangse opgawe met betrekking tot die 2019 algemene verkiesing, nie ’n aanduiding van wat gaan gebeur nie.

Volgens ’n steekproef van 3 738 kiesers gedurende die periode 20 April tot 7 Junie is die ANC stewig in die saal met 60% ondersteuning ondanks faksiegevegte, ondersoeke in staatinstellings soos die Reserwebank en ’n geregtelike ondersoek oor staatskaping.

Die ANC het ’n hupstoot gekry deur die dagbreek van pres. Cyril Ramaphosa en die DA se interne gevegte, maar is kwesbaar — 54% van die kiesers stem saam dat die leierskapskwessie die party se toekoms onseker maak.

Danksy die leierskap in KwaZulu-Natal is die Zuma-faksie steeds in beheer en kan hulle hul steun ten koste van die ANC gebruik. Die president gryp nou na die grondkwessie om steun te verkry terwyl rassespanning al hoe meer opvlam. Dit alles te midde van ’n ekonomie wat onderpresteer en wankelrige staatstrukture.

Volgens Ipsos daal die DA se steun met 9% in vergelyking met die 2014-verkiesingsuitslag. Die Patricia de Lille-debakel en die droogtekwessie in die Wes-Kaap het die party nie tot eer gestrek nie. Om swart kiesersteun te verbreed, beweeg die party nader aan die ANC en verskuif van ’n liberaal-demokratiese party na ’n sosiaal-demokratiese party. Die prys is die steun van dele van die wit steunbasis.

Bostaande behoort goeie nuus vir kleiner partye te wees.

Twee aspekte is wel moontlik om te voorspel: Oor maande van nou gaan Suid-Afrika die mees omstrede verkiesing in sy geskiedenis beleef.

Tweedens is die een partydominantestelsel besig om te verkrummel.

Hieruit lei ’n mens af dat plek gemaak word vir koalisiepolitiek wat dalk tot voordeel van probleemoplossing vir die hele land kan wees.

Related Articles

Back to top button