Local newsNews

Onderrig bly onderwysman se grootste passie

Michael Mafora (78) van Vaalwater het op byna 80 steeds ’n passie vir die onderwys en is nog voltyds by onderwyssake betrokke.

Hy moniteer die Waterbergstreek se matriekeksamen en maak seker die matrieks verdien hul punte op ’n regverdige manier.

Mafora se onderwysloopbaan het in 1962 begin. Sy kontrak by Umalusi (Council for Quality Assurance in General and Further Education and Training) is onlangs weer vir ’n verdere vyf jaar hernu. Wanneer sy kontrak verstryk sal hy dus 83 jaar oud wees.

Vier van sy ses kinders leef nog — sy dogters Winnie, Maria, en Lisi en sy seun Syprim Motumbudi. “My seun het twee kinders en Maria en Winnie se seuns, Samuel en Onthantile, is albei in Laerskool Vaalwater,” het hy aan Die Pos gesê.

Hy glo hy is baie dank aan sy pa, Kgwala Salthiel Mafora, verskuldig. “My pa was ’n onderwyser by Thutlwane Primêre Skool in die Bakenberg-omgewing. Hy het ’n krom lat reguit geslaan.” Die skool het net tot by st. 3 (gr. 5) gegaan.

Sy pa het hom na sy jonger broer Samuel (Michael se oom) gestuur, wat vir Rupert Farant op ’n plaas buite Vaalwater gewerk het sodat hy st. 4 by Vaalwater Public School kon voltooi. Vaalwater Public School staan vandag bekend as Mahlasedi Primary School.

Hy het st. 5-8 in Bakenburg by Mantlhakane Hoër Primêre Skool voltooi. Mafora het sy twee jaar primêre onderwyssertifikaat in 1961 in Mokopane verwerf en op 15 Januarie 1962 by Diphiring Primêre Skool ingeval. Hy was 11 jaar lank ’n onderwyser by dié skool en het daar begin met sy studies om sy matrieksertifikaat te verwerf.

Mafora is later jare as hoof by EA Davidson Primary School op die plaas 24 Riviere in die Vaalwater-omgewing aangestel nadat die vorige hoof Zakaria Kgomo na Mokopane verplaas is.

“Ds. Malcolm en sy vrou, Jane, het baie te doen met die voorreg wat ek gehad het om in my goeie vriend Kgomo se voetspore te volg.”

Mafora het terwyl hy skoolhoof was sy matrieksertifikaat voltooi en daarna ’n BA-graad en ’n Hoër Onderwysdiploma (HOD) deur Unisa voltooi. Daarna het hy sy Verdere Diploma in die Onderwys (VDO) aan die Universiteit van Pretoria behaal, asook sy BA Honneurs in 2010. Hy was vir drie jaar ’n lektor in die verryking van onderwyspersoneel en het op Saterdae klasse by die Universiteit van Pretoria aangebied.

Hy is in 1989, ná 16 jaar as skoolhoof by EA Davidson, as areabestuurder vir die departement van onderwys in die destydse Warmbad aangestel. Hy was ook van 1997 tot 2005 kringbestuurder in Vaalwater. Hy het in 2006 aansoek gedoen om ’n pos by Umalusi en is steeds daar betrokke.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button