Community galleriesGalleries

Geite en giere…

Wat gebeur in en om die Waterberg?

Werknemers by die departement van korrektiewe dienste in Modimolle het hul deel bygedra tydens die 67 minute vir Mandela-herdenking op Woensdag 18 Julie deur die strate met swartsakke in te vaar en rommel op te tel.
Ronél Badenhorst (55) van Modimolle is op Vrydag 13 Julie onverwags oorlede aan ’n hartaanval. Badenhorst was ’n verpleegster by die Phagameng-kliniek. “Sy was baie lief vir haar werk en het uitgereik na mense in nood. Sy het baie uitgesien na die eersdaagse koms van haar eerste kleinkind,” het haar skoondogter Debbie Roets gesê. Sy laat haar lewensmaat, Riaan Lamprecht, haar ma Leoni Kolver en twee seuns en hul vroue Barend en Debbie, asook Gerhard en Samantha Roets agter.
Die Vereniging van Staatsamptenare maak jaarliks ’n skenking aan ’n verdienstelike welsynsorganisasie in Suid-Afrika. Die doel hiervan is om uit te reik na die gemeenskap. Die skenking is vanjaar aan die Waterberg-dienssentrum “Ons Hoop” in Modimolle gegee. Jakkie van Dyk, voorsitter van die vereniging se streekskomitee in die Waterberg, het die bewys van betaling aan Elouis Hooneberg, Ons Hoop se bestuurder, oorhandig. Langs hulle staan Claudine Botes, ook van Ons Hoop.
Kansa het op Maandag 23 Julie by Hoërskool Warmbad gaan kuier om die leerders meer te vertel oor die organisasie en waarom dit belangrik is om deel te wees van die beoogde Kansa Relay for Life. Kansa het vyf leerders, Shanya Cortes, Mickayla Trollip, Dominique Nortjé, Mia White en André van Zyl, snaaks laat aantrek vir die temarondte van die Relay for Life.
Die Warmbad-rolbalklub het op Vrydagaand 20 Julie die koue weer met ’n smaaklike ete en warm musiekaand verdryf saam met Rouel Beukes, bekende akteur en sanger. Beukes en sy vrou, Eureke, het verlede jaar na die Bela-Bela-omgewing verhuis. Die rolbalklubsaal was stampvol besoekers wat na die uitvoering gaan luister het. Hulle is met sjerrie, asook sop en ’n broodjie bederf. Die geleentheid is gehou om geld vir Huis Talje, ’n tehuis vir gestremdes in die dorp, in te samel. Op die foto gesels Stephanie Vermeulen, visepresident van die rolbalklub, met Eureke en Rouel tydens die geleentheid.
Een van Die Pos se lesers was bevoorreg om vanjaar die “sardientjieloop” by die KwaZulu-Natalse kus te sien. Venita Terreblanche, wat buite Bela-Bela woon, het gesê hulle hou reeds die afgelope 12 jaar by Mtwalumi in KwaZulu-Natal vakansie en dit is die eerste keer dat hulle dit beleef. Volgens Terreblanche is ses nette uitgetrek en die haaie het ook baie vlak geswem. Die vissers moes die nette met houtpale stut sodat die see nie die nette terugtrek nie. Die vissers was ook heeltyd op hul hoede omdat die haaie so naby was, het sy gesê.
Inwoners in Modimolle het die afgelope week foto’s van vuil munisipale water op diensleweringsgroepe gedeel. Dié probleem was in die omgewing van Vorster- en Van Rhyneveldstraat. Thabang Selemela, afdelingshoof van waterdienste by die munisipaliteit in Modimolle, het aan Die Pos bevestig dat ’n gebarste pyp die oorsaak van die probleem was. “Wanneer ons aan die pyp werk, beland daar grond in. Die pyp is Maandag 23 Julie herstel. Ek is egter bekommerd omdat van die inwoners sê dat hulle water al twee weke lank so lyk. Ons is besig om ondersoek in te stel,” het hy gesê.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button