MunicipalNews

Bure moedeloos oor eens statige woning

Inwoners van Modimolle sit met hul hande in die hare oor ’n verlate huis in hul straat wat jaar ná jaar agteruitgaan sonder dat iemand verantwoordelikheid daarvoor neem.

Die Pos het al verskeie kere berig oor die huis in Wolmaransstraat, wat eens die trotse Drosdy-woning was waar landdroste en staatsaanklaers tuisgegaan het. Deesdae is die plek gestroop en verwaarloos. Gras staan in die somer skouerhoogte en die huis se vensters is gebreek. Sluipslapers word gereeld op die eiendom opgemerk wat inwoners onveilig laat voel.

Die huis behoort aan die nasionale departement van openbare werke (DOW) en is aan die departement van justisie toegeken, het ’n woordvoerder bevestig.

Radelose inwoners het die afgelope paar maande gekla dat ’n groep jong vroue met kinders by die huis ingetrek het.

Laatnagpartytjies en vroue wat halfkaal in die straat afloop, het volgens die bure, daarop gevolg. Die huis het glo geen water- of elektrisiteitstoevoer nie en die inwoners, wat volgens die bure onwettig in die huis bly, maak vuur in die beboste tuin om kos te maak. Wasgoed word tot die bure se ontsteltenis teen die grensdraad opgehang.

Die Pos het in 2014 berig dat die huis aan ’n voormalige senior landdros op die dorp toegeken is, maar hy het glo selde in die huis tuisgegaan. Inwoners het toe reeds oor die verwaarlosing gekla.

Joshua Kwapa, woordvoerder van die provinsiale departement van openbare werke, het by navraag gesê hulle het vasgestel dat die onlangse groep inwoners die huis onwettig betrek het.

Volgens Kwapa het ’n werknemer van die departement van omgewingsake en toerisme in Limpopo hul genader vir verblyf vir tien studente wat indiensopleiding sou ontvang. “Daar is aan hom gesê dat daar nie verblyf beskikbaar is nie en hy het gesê die huis in Wolmaransstraat 5 staan leeg,” het Kwapa gesê. Die man is na die nasionale departement verwys. Volgens Kwapa het die man nooit dié departement genader vir toestemming nie en het die tien studente daar laat bly. Een van die bure het bevestig dat ’n man in ’n bakkie die onregmatige inwoners daar afgelaai het.

“Ons distrik is bewus van die skade aan die huis wat meestal gebreekte vensters is. Die huis is egter nie die verantwoordelikheid van die provinsiale DOW nie en die distrik kan niks daaraan doen totdat die huis nie aan hulle oorgedra word nie, sou die nasionale DOW dit so verkies,” het Kwapa gesê.

Teen druktyd is daar nog geen antwoorde oor die stand van die huis van die nasionale DOW ontvang nie.

Inwoners kan enige onwettig bewoonde staatseiendom anoniem aanmeld by die nasionale teenkorrupsienommer by tel. 0800 701 701.

Related Articles

Back to top button