Local newsNews

Sakekamer moedig inwoners aan om by gemeenskapsforum aan te sluit

’n Hofbevel bied slegs 90 dae grasie voordat Eskom kan voortgaan met stappe soos beurtkrag om sy meer as R250 miljoen uitstaande skuld te probeer invorder.

Inwoners wat steeds bekommerd is oor wat die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit se reuse-Eskomskuld vir die dorpe inhou, het op Donderdag 12 Julie die Waterberg-sakekamer se vergadering bygewoon.

’n Hofbevel bied slegs 90 dae grasie voordat Eskom kan voortgaan met stappe soos beurtkrag om sy meer as R250 miljoen uitstaande skuld te probeer invorder.

Die hofbevel wat op Dinsdag 26 Junie aan die munisipaliteit toegestaan is, verhoed krediteure om vanaf Dinsdag 26 Junie vir 90 dae stappe te doen. Dié hofbevel is op die nippertjie toegestaan voordat die kragreus beurtkrag sou begin toepas.

Die sakekamer se hofaansoek om artikel 139 (5) wat die provinsiale en nasionale tesourie sal dwing om by die munisipaliteit se benarde geldsake in te gryp, is dieselfde week aangehoor, maar is van die rol verwyder omdat die hof dit nie meer dringend geag het ná die munisipaliteit se vorige suksesvolle aansoek nie.

Wiets Botes, voorsitter van die sakekamer, het gesê hulle gaan wel voort met hul hofaansoek om artikel 139 (5) af te dwing, maar nie op ’n dringende grondslag nie om te verhoed dat die saak weer uitgegooi word.

Die sakekamer het ’n gemeenskapsforum op die been gebring waar inwoners maandeliks bydraes kan lewer soos met ander burgerregte-organisasies. Dié geld sal aangewend word vir munisipale aangeleenthede soos straatligte, slaggate en hofgedinge indien nodig. Inwoners word aangemoedig om hierby aan te sluit. Die sakekamer voer ook samesprekings met groepe wat hulle in soortgelyke situasies bevind.

Marlene van Staden, burgemeester, het kort voor die vergadering ’n wyksvergadering in dieselfde lokaal gehou.

Sy het tydens die sakekamer se vergadering gepraat en uitgebrei oor die munisipaliteit se geldsake en die algemene politieke klimaat. Sy het gesê dinge gaan beter en dat sy goed saam met Mapule Mokoko, die nuwe munisipale bestuurder, werk. Mokoko het volgens haar die potensiaal om die munisipaliteit se geldsake reg te ruk.

“Ons staan nie die sakekamer se hofaansoek teen nie. Hul voorstel is tot voordeel van die munisipaliteit, want dit beteken bykomende hulp. Deur hulle aansoek wil hulle die nasionale en provinsiale regering dwing om hulp te verleen. Dit sal goed wees as ons van vooraf kan begin sonder die groot skuldlas,” het sy gesê.

  • Modimolle het die afgelope koue wintersweek twee keer kragonderbrekings gehad.Die kragtoevoer was op Dinsdag 17 Julie in Phagameng en dele van Wyk 11 af. Inwoners het ook ’n ysige Woensdagog-gend begroet met ’n kragonderbreking wat die hele dorp beïnvloed het. Dit het gelukkig net van 06:00 tot 07:00 geduur.

    Inwoners is aangeraai om alle onnodige elektriese toebehore af te skakel omdat die kragnetwerk onder druk is.

Related Articles

Back to top button