BlogsOpinion

HOOFARTIKEL: Om vorentoe te beweeg

Ons vriende kan glad nie verstaan waarom ons nie al lankal “boots and all” ook in Australië nes geskop het nie.

Gesinsvriende uit Australië het onlangs kom kuier.

Hulle was ook ons studente-vriende hier in Suid-Afrika, maar het baie jare gelede reeds besluit dat die gras aan die ander kant groener is.

En as ’n mens mooi luister na wat hulle vertel, ís Australië inderdaad groen. ’n Plek van “melk en heuning”. Ons vriende kan glad nie verstaan waarom ons nie al lankal “boots and all” ook in Australië nes geskop het nie.

Ons stry nie meer met ons vriende soos toe ons jonger was nie. Ons kan nie. Ons wil nie meer nie. Ons wonder soms self hoekom sit ons steeds aan die suidpunt van Afrika.

Ná die kuier en nadat ons kosbare vriende op ’n vliegtuig terug na die aardse “Kanaän” geklim het, moet ek en my gesin diep delf en mooi met mekaar praat terwyl ons in die spreekwoordelike mynskag werskaf. Op soek na selfs die kleinste edelsteen om ons Suid-Afrikanerskap en ons “hierwees” te regverdig.

En ons vind hulle, diep in die aardkors van hierdie land, begrawe.

  • Ons vind ons eerste skat op ’n Sondagmiddag in die binneblad van ’n koerant waar ons lees van 44 vrywilligers wat in die ooste van Pretoria werskaf om kos te verskaf aan die 50 werkers wat ’n uitgebrande kragstasie in dié stad die afgelope week herstel het. Vrywillige inwoners wat vir dae self sonder elektrisiteit gesit het, steek die hand uit en voorsien drie etes per dag vir ongeveer sewe dae.
  • ’n Vriendin stuur ’n juweeltjie aan op haar Facebook-blad: “Kyk op die FB-blad Hermanus has Heart. Ons dorpie maak my trots. Werkers vasgekeer in Zwelhihle. Maar almal spring in en werk in winkels, restaurante, petrolstasies … fantasties. Nou net 60 broodjies gaan aflaai vir die oorwerkte polisie. Ons kan as ons wil!”
  • In ons eie plaaslike “myn” vind ons nog mense met oop harte wat sinkplate, sement, houtpale en kos vir ’n kleuterskool in die Bela-Bela-township skenk nadat hulle ’n berig in Die Pos gelees het dat die Siza Ngo Thando Preschool dringend hulp nodig het.

Ek het steeds nie genoeg skietgoed om ons vriende te antwoord nie. ’n Mens kan in elk geval nie menslike spiritualiteit in rand en sent verdiskonteer of inweef in die netwerk van ingewikkelde redenasies nie. Maar ek kan my met Madiba se woorde vereenselwig dat ek “in wese optimisties” is. “Deel van optimisties wees is om jou gesig na die son te rig en jou voete vorentoe te laat beweeg.”

Related Articles

Back to top button