CrimeNews

Vier jaar vir man wat probeer ontsnap

Majecha word met twee huisbraaksake verbind wat in Augustus en Oktober 2016 in die Bela-Bela-omgewing plaasgevind het.

Die Zimbabwiër wat op Woensdag 4 Julie by die Bela-Bela-landdroshof probeer ontsnap het, is op Donderdag 12 Julie vier jaar tronkstraf opgelê.

Walter Majecha (26) het tydens sy verskyning op Woensdag 4 Julie uit die hof probeer vlug terwyl die verrigtinge aan die gang was. Hy is aanvanklik van huisbraak en diefstal aangekla.

Die polisie het hom naby die hof se hoofingang aangekeer nadat hy probeer spore maak het.

Majecha het op Donderdag skuld beken op twee aanklagte van huisbraak en diefstal, asook klagte van ontsnapping en dat hy onwettig in die land is.

Luidens die klagstaat word Majecha met twee huisbraaksake verbind wat in Augustus en Oktober 2016 in die Bela-Bela-omgewing plaasgevind het. Hy het onder meer selfone, klere, geld, ’n televisie en satelliettoerusting gesteel.

Hy is aan die begin van Julie ook daarvan aangekla dat hy onwettig in die land is. Majecha het ten tyde van sy inhegtenisname in Hostel View in die Bela-Bela-township gewoon, lui die klagstaat.

Die hof het hom tot drie jaar tronkstraf gevonnis op die klagte van huisbraak en diefstal, tot ses maande omdat hy onwettig in die land is en nog ses maande omdat hy probeer ontsnap het.

Related Articles

Back to top button