CrimeNews

Paartjie beleef angsnag ná gewapende mans hul oorval

“Hulle het gedreig om my neus af te sny as Cher nie vir hulle sê waar geld en wapens is nie.”

’n Man en vrou se droom van ’n Bosveld-eden het in ’n nagmerrie ontaard nadat vier gewapende rowers hulle oorrompel het terwyl hulle geslaap het.

Gavin Wolfaardt (56) en Cher Williams (57) is Donderdagoggend 5 Julie om 02:00 deur vier “jong, aggressiewe” aanvallers in hul huis op ’n wildlewelandgoed in die Loubad-omgewing wakker gemaak.

Die mans het die paartjie vasgebind en ’n mes teen Wolfaardt se gesig gedruk.

“Hulle het gedreig om my neus af te sny as Cher nie vir hulle sê waar geld en wapens is nie,” het ’n ontstelde Wolfaardt vertel.

Hulle het ook gedreig om Williams se vingers af te sny. Die twee is vir langer as ’n uur aangehou en gedreig voordat die aanvallers hulle vasgebind op hul slaapkamervloer gelos en met hul voertuig gevlug het.

“Hulle was nie haastig nie en het hul tyd gevat. Een het my dopgehou terwyl die ander ons huis leeg gedra het,” het Gavin, ’n motorwerktuigkundige in Modimolle, by sy onderneming vertel.

Die mans het ’n kragopwekker, komberse en kussings, selfone en enige waardevolle items wat hul kon kry in sy Mazda Drifter-bakkie gelaai waarna hulle gevlug het.

Wolfaardt, wie se hande agter sy rug vasgebind was, het homself teen die muur opgewikkel en kombuis toe geskuifel om ’n mes te kry.

“Cher se hande was gelukkig voor haar vasgemaak en sy kon my los sny toe ek voor haar gaan sit het.”

Die twee is daarna in die donkerte na die naaste huis wat sowat ’n kilometer en ’n half van hul geleë is om hulp te kry.

Die landgoed het slegs vyf permanente inwoners en volgens Wolfaardt is daar daagliks bouers wat in en uit beweeg. “Ons voel baie onveilig. Ons gaan nou saans vroeër huis toe, want ons is baie bang.”

Drie van Wolfaardt se kliënte het tydens die onderhoud met Die Pos ingekom en hul stories van aanvalle op plase en familie wat vermoor of aange-rand is, gedeel. Wolfaardt het gesê sy ma is in 2006 dood ná ’n gewapende roof in Johannesburg. Williams is ook voorheen in die stad aangeval.

Lede van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het op die noodoproep gereageer. Een van hul lede, Callie Alcock, het gesê die GPF was etlike dae voor die aanval op die spoor van diewe wat sonpanele in die omgewing gesteel het. Niemand was tydens dié diefstalle tuis nie. “Sonpanele is Dinsdag gesteel nadat die inbrekers toegang verkry het deur ’n hek oop te dwing en onderdeur die elektriese wildheining te klim waar vlakvarke onderdeur gegrawe het. Daar is ook klere en ’n televisie gesteel en dit wil voorkom asof die inbrekers daarna deur ’n bakkie opgelaai is. Dit lyk asof die aanvallers Donderdag dieselfde toegangsroete gebruik het,” het hy gesê.

AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, het gesê die polisie ondersoek ’n klag van huisroof. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button