CrimeNews

Inwoner kom op bloederige moordtoneel af

Die man is eers van agter met ’n baksteen oor die kop geslaan, waarna sy keel afgesny is.

Die wrede moord op ’n Zimbabwiese burger (50) op Woensdag 4 Julie in Mookgophong het die hele gemeenskap met afsku vervul.

Dit is die tweede moord op ’n buitelander binne enkele weke nadat Adina Sarebo, ’n Etiopiër, op Woensdag 20 Junie in sy winkel in die dorp doodgeskiet is.

Volgens AO George Ledwaba van die polisie in Mookgophong het die Zimbabwiese man, wie se naam nog nie bekendgemaak mag word nie, by die Waltkon-abattoir net oorkant die brug op die Roedtan-pad gewerk. Hy was glo op pad terug huis toe nadat hy nagskof gewerk het toe hy in die veld agter die sakeondernemings in Eerste-straat aangeval is.

Ledwaba het gesê die man is eers van agter met ’n baksteen oor die kop geslaan, waarna sy keel afgesny is. Hy het ook verskeie oop wonde aan sy gesig gehad. Die moord is vermoe-delik tussen 05:00 en 06:00 gepleeg aangesien sy skof 04:00 geëindig het. ’n Inwoner, wat op pad werk toe was, het hom ongeveer 06:00 langs die voetpad gevind.

’n Vrou wat daar naby werk en anoniem wil bly, het aan Die Pos gesê toe sy omstreeks 06:30 daar verby is, was daar geweldig baie bloed en die man se liggaam was glo nog warm.

Hy het na wat verneem word vir twee aande nie by sy huis geslaap nie en het gewoonlik ná die skof saam met ’n groep mense wat saam met hom werk, huis toe gestap. Hy het die betrokke oggend egter alleen gestap.

Die polisie se forensiese span van Modimolle was vinnig op die toneel en hulle het leidrade gekry wat opgevolg word.

Volgens Ledwaba lyk dit asof die moord beplan is, maar geen verdagte is nog in hegtenis geneem nie.

Die polisie het ook nog nie iemand in verband met die moord op Sarebo aangekeer nie.

* Altesame 18 onwettige immigrante is op Donderdag 5 Julie in hegtenis geneem tydens ’n klopjag wat deur die polisie in Mookgophong uitgevoer is.

Related Articles

Back to top button