CrimeNews

Peterson-verdagtes wag steeds op DOV

Die egpaar was besig om ontbyt te eet toe hulle aangeval was

Die vyf verdagtes wat in verband met die aanval en moord op Cecil (83) en Pattie (73) Peterson van Bela-Bela in die hof verskyn, moet vir nog ’n maand in aanhouding wag sodat die direkteur van openbare vervolging (DOV) verdere instruksies oor die pad vorentoe aan die hof sal gee.

Die Petersons is in September 2017 op hul plaas TNT Trading buite Bela-Bela deur ’n groep rowers aangeval en geskiet.

Pattie is in die maag en Cecil in die gesig geskiet. Sy is op toneel oorlede en Cecil het ses weke ná die aanval in ’n Pretoriase hospitaal gesterf. Die egpaar was besig om ontbyt te eet toe hulle aangeval was, het Die Pos vroeër berig.

Die rowers het windbukse, kontant vanuit Pattie se handsak en twee selfone wat aan die egpaar se huiswerkers behoort het, gesteel, is vroeër in die hof gesê.

Daar is aanvanklik vermoed dat vier verdagtes by die aanval betrokke was. Die polisie het egter, in samewerking met die Heritage Protection Group (HPG), vyf verdagtes in hegtenis geneem. Kapt. Renier Schutte van die Bela-Bela-polisie is die ondersoekbeampte.

Piet Mathebula, Mpho Nico Nkonyana, Tshepo Tebula, Thato Surprise Maringa en Lucas Masingi verskyn op aanklagte van moord, aanranding, roof met verswarende omstandighede en die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie. Nkonyana verskyn op ’n bykomende aanklag vir die besit van ’n gesteelde selfoon wat aan een van die plaaswerkers behoort het. Hulle laaste hofverskyning as ’n groep was op Donderdag 5 Julie.

Mathebula, Nkonyana, Tebula en Maringa is reeds borgtog geweier. Masingi het in die hof gesê hy wil sy eie verdediging behartig. Hy het tydens sy vorige verskyning sy aansoek om borgtog laat vaar.

Die hof het op Donderdag instruksies vanaf die DOV verwag, maar dit was uitstaande.

Die saak is weer uitgestel na Woensdag 1 Augustus vir die DOV se terugvoer.

Al vyf verdagtes is in aanhouding.

Related Articles

Back to top button