BlogsOpinion

Die A en die B en die grote C

“Ek sal enigiets anders beoordeel, net nie die babaskou nie.”

Meer as twee dekades gelede het ek en die sanger Franna Benadé in groot moeilikheid beland.

Ons was beoordelaars by daardie jaar se Mej. Druiwepit- of Mej. Druiwekorrel-kompetisie.

Ons het hande geklap en ge-oe en ge-aa, maar glo ook tussenin gesit en klets en nie mooi gekonsentreer nie.

Want die daaropvolgende Maandag het ’n baie kwaai ma wie se kind nie onder die eerste drie was nie, my gebel en die Leviete voorgelees. Sy wou die puntestate deur ’n eksterne bron laat oudit, vertoë rig en die beoordelaars en die Druiwefeeskomiteelede hof toe sleep.

Ek het baie groot geskrik (Franna het nie eintlik geskrik toe ek hom baie benoud gebel het nie. Miskien was hy toe reeds ouer en wyser as ek).

Dié insident het my jare lank bygebly. Want uit die aard van my werk moes ek al letterlik hande vol kompetisies beoordeel by eisteddfods, kunsfeeste en skoue; skryfkuns, foto’s, troeteldiere, eetgoed — te veel om op te noem.

“Ek sal enigiets anders beoordeel, net nie die babaskou nie,” het ek desjare al beswaar aangeteken by die nou reeds gesneuwelde Warmbad-skou.

Want hoe op aarde gee ’n mens “punte” vir kinders se voorkoms? Almal sit daar met skoongeskropte gesigte, Sondagklere, blink ogies gerig op die reusegeskenkpakke en oupa en ouma in die voorste ry. En sodra die wenners aangewys word, bars daar ’n tranedal onder die niewenners uit, pa en ma moet troos en die beoordelaars kry skuins kyke.

Intussen het ek self kinders gehad en agtergekom wen is lekker, maar verloor is ’n baie moeilike “lewensles” om aan ’n verslae kind te verduidelik.

“Waarvoor staan ’n B?” het ’n baie tranerige klein ballerina jare gelede in my huis kom vra. “Die kinders sê dit is sleg …” Die pa het hom vervies vir “die kinders” se mening en pront-uit verklaar ’n B staan vir Bliks*ms Fantasties.

Die mediareg verwag van joernaliste om te alle tye objektief te wees. En dit is juis my probleem, dink ek nou die dag toe ek my sitplek by die beoordelaars by Laerskool Warmbad se pragtige Warries Got Talentkompetisie inneem: Ek woon al te lank in die Waterberg. Ek ken te veel stories agter die stories. Ek hoor nie meer vals note of sien spelfoute wanneer ek weet van ’n kind se lag of trane of groei tot by daardie verhoog nie.

As ’n kind opdaag, die mikrofoon vasklou, ’n skryfstuk indien of die loopplank bestyg, het hy of sy klaar ’n A by my gekry. Ek gee nie bliks*mse B’s nie.

Related Articles

Back to top button