CrimeNews

Hepburn-saak dalk deur bemiddeling besleg

Hepburn het glo tydens ’n nagtelike jagtog ’n beweging in ’n mielieland in die Tuinplaas-omgewing vir dié van ’n bosvark aangesien.

Die hofsaak van ’n jagter wat glo ’n man verlede jaar per ongeluk in ’n mielieland doodgeskiet het, kan dalk deur middel van ’n bemiddelingsproses afgehandel word.

Stephan Hepburn (39) se regspan het voorleggings aan die Nasionale Vervolgingsgesag gemaak, waarna die direkteur van openbare vervolging (DOV) van Limpopo verlede week gereageer en voorgestel het dat die moontlikheid van bemiddeling tussen Hepburn en die oorledene se familie ondersoek moet word. ’n Verklaring sal ná die ondersoek oor hul gewilligheid hiervoor aan die DOV gemaak word.

Dié tragedie het in Februarie verlede jaar plaasgevind toe Hepburn glo tydens ’n nagtelike jagtog ’n beweging in ’n mielieland in die Tuinplaas-omgewing vir dié van ’n bosvark aangesien het. Die 23-jarige Jan Railo is noodlottig getref nadat Hepburn hom raakgeskiet het.

Die klag is in September verlede jaar van moord na strafbare manslag verander. Die hofsaak het wyd belangstelling gelok en die hofsaal was tydens Hepburn se eerste klompie verskynings volgepak met verteenwoordigers van verskillende politieke partye.

Hepburn verskyn weer op Dinsdag 24 Julie in die hof in Modimolle.

* Die 48-jarige man wat daarvan aangekla word dat hy ’n 13-jarige meisie van Modimolle ontvoer het, het op Maandag 2 Julie in die streekshof in die dorp verskyn. Sy identiteit mag nog nie bekendgemaak word nie weens die aard van die klagte teen hom. Die saak is na Dinsdag 9 Julie uitgestel.

Related Articles

Back to top button