BlogsOpinion

HOOFARTIKEL: Mense met ‘harte’

Deur Die Pos-kinderfonds raak die koerantspan dikwels betrokke by die wonderlikste liefdadigheidsprojekte waar die entoesiasme en geloof van die rolspelers ’n mens aan die hart raak.

Dit was ook die geval toe ons paaie ongeveer vier jaar gelede met ’n kleuterskool in ’n plakkerskamp in Bela-Bela-township gekruis het.

Toe Elsie Hlongwani en haar gesin vyf jaar gelede deur familielede uit hul huurhuis geskop is, het sy aanvanklik op moedverloor se vlakte gesit. Hulle het geen ander heen-kome gehad nie en is gedwing om ’n sinkhuis in ’n plakkerskamp in dié township staan te maak. Haar geloof en kreatiwiteit het egter nie ook in die stofstrate gaan lê nie.

Met ’n basiese kwalifikasie in vroeë kinderontwikkeling het sy langs haar eie sinkhuis nog ’n sinkgeboutjie opgerig en op ’n sinkplaat die skool se naam geverf: Siza Ngo Thando Preschool. Dit beteken “’n goeie hart”.

Die woord het vinnig in die omgewing versprei dat daar ’n kleuterskool open en die “juffrou” bereid is om teen ’n geringe fooi na die werkende ma’s se kinders om te sien.

Hlongwani is boonop uiters bekwaam in haar werk en die sinkgeboutjie was gou tjokvol.

Toe Hlongwani by die departement van gesondheid en welsyn gaan aan-klop vir registrasie, het sy ’n lang lys ontvang van alles waaraan sy moet voldoen voordat haar skooltjie amptelik by dié departement mag registreer.

Dit is hoe dié kleuterskooljuffrou een oggend in Die Pos-koerant se kantoor beland het.

Die lang lysie met die baie “moets” het onder meer ingesluit ’n heining en skadunet. Die kinderfonds het daarmee gehelp.

Toe die eerste somerreëns egter val, het Hlongwani se huis én die skoolgebou amper weggespoel. Die departement het laat weet dit is ge-vaarlik vir die kinders — die skool moet na ’n hoër erf skuif. Die heining, sinke en pale is geskuif. Die kinderfonds het weer gehelp en alles is van voor af gebou. Drie jaar lank het Siza Ngo Thando gegroei.

Nou het die Bela-Bela-munisipaliteit Hlongwani in kennis gestel dat daar op dié erf HOP-huise gebou gaan word en sy moet wéér skuif. Die munisipaliteit het wel nou ’n “permanente” erf aan die skool toegestaan, maar Hlongwani se moed lê hierdie keer in die stof.

Die kinderfonds het onderneem om weer te help. Geld is beperk. Ons hier by die koerant kan dalk weer ’n heining betaal en laat span en ’n bakkie leen om al die sinke en pale te verskuif. Maar eintlik droom ons saam met Hlongwani van ’n geboude skooltjie met onder meer speelapparate.

En ons wonder of daar nie ander instansies of individue is wat saam met ons wil droom nie. Wat dalk boumateriaal en arbeid kan skenk of die erf kan gelyk skraap nie. Dalk weet iemand van ’n skeepshouer of houthuisie wat iewers rondstaan.

Want as die skole op Dinsdag 17 Julie open, moet Hlongwani se skool reeds op die nuwe perseel staan anders het 50 kinders geen heen-kome nie. Om dit te verwesenlik, moet iemand met ’n goeie hart ’n wonderwerk laat help gebeur.

Help Die Pos-kinderfonds om hierdie kinders te help.

Mense wat graag meer inligting oor die projek verlang, kan Bea Emslie bel by tel. 083 654 5819.

Related Articles

Back to top button