CrimeNews

Mans agter tralies ná ‘foutjie’

Die polisie het beeldmateriaal ná die inbraak bestudeer en een van die mans herken.

Drie vermeende booswigte se “foutjie” het hulle duur te staan gekom toe hulle vermoedelik die verkeerde draad van ’n veiligheidskamera tydens ’n rooftog by ’n onderneming in Modimolle geknip het.

Die polisie het twee van die mans vasgetrek kort nadat hulle na die (werkende) kamera se beeldmateriaal gekyk het.

Volgens die polisie het die mans op Dinsdag 26 Junie ’n gat in die heining by ’n petroleumonderneming geknip en ’n veiligheidswag oorval en vasgebind. Hulle het ’n skeepshouer oopgebreek en die veiligheidskamera buite werking probeer stel, maar was onsuksesvol. Hulle het daarna glo by die kantoor ingebreek waar hulle ’n Futsi-skootrekenaar, ’n Ryobi-hoekslyper, kontant en ’n verskeidenheid gereedskap gesteel het.

Van die items wat teruggevind is.

Die polisie het die beeldmateriaal ná die inbraak bestudeer en een van die mans, ’n Zimbabwiër wat onlangs uit die tronk vrygelaat is, herken, het AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, gesê. Die man is in sy kamer vasgetrek.

Nog ’n verdagte is daarna aangekeer. Albei mans is in hul twintigs en sal eersdaags in die hof verskyn.

Volgens kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder, was hierdie inhegtenisnemings deel van Operasie Fiela.

Altesame 328 verdagtes is tydens Operasie Fiela in die provinsie vasgetrek op klagte wat wissel van moord, gewapende roof, die besit van ongelisensieerde vuurwapens, onwettige immigrante, verkragting, inbrake en so meer. Meer as 383 voertuie en 612 mense is deursoek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button