Local newsNews

Veearts se s-s-steke red glibberige ‘pasiënt’

’n Ongewone pasiënt het by ’n dierekliniek in Modimolle om hulp aangeklop ná ’n onderonsie met honde.

Slangvanger Theunis Victor het op Vrydag 29 Junie ’n allemintige 4,2 m lange luislang op Nico en Amanda Pretorius se plaas gevang nadat hul dapper Jack Russell-hondjies die slang aangevat het. Die luislang het lelike wonde opgedoen en het behandeling benodig. Volgens Victor is dit vermoedelik ’n wyfieslang.

Die Konvensie vir Internasionale Handel in Bedreigde Fauna- en Floraspesies (CITES) beskou die Suider-Afrikaanse luislang as bedreig. Ingevolge wetgewing mag dié reuse, wat onder van die grootste slange ter wêreld gereken word, nie doodgemaak word nie.

Marina Bredell, ’n plaaslike veearts van Modimolle, behandel die luislang se wonde.

“Ek het vir Marina Bredell, ’n plaaslike veearts, gevra of sy die pasiënt sal help. Sy het ingestem met die voorwaarde dat daar genoeg hande is om te help vashou,” het Victor gesê.

Hy het die hulp van LD Pienaar en Johan Koch, wat ook ervare is in die hantering van slange, ingeroep sodat die luislang gedokter kon word.

Bredell het gesê hulle het die slang se wonde skoongemaak en toegewerk terwyl die helpers haar stewig vasgehou het. “Sy was baie moeg ná die gespook met die honde. In die winter is hulle maar in elk geval traag,” het sy gesê.

Die luislang word eers aangehou om seker te maak dat die wond heg en sy nie infeksie opdoen nie. Sy sal daarna vrygelaat word.

Bredell het gesê dié soort pasiënt daag nie gereeld by die kliniek op nie. Hulle het al vantevore ’n luislang suksesvol behandel wat op ’n paar plekke geskiet was.

Related Articles

Back to top button