CrimeNews

Sakeman koelbloedig in sy winkel doodgeskiet

“Toe ek die laken oplig, kon ek nie glo dit is dieselfde man by wie ek so pas ’n koeldrank gekoop het nie.”

’n Winkeleienaar van Mookgophong is dood nadat gewapende rowers hom op Woensdag 20 Junie in sy winkel in die hoofstraat van Mookgophong geskiet het.

Adina Sarebo, ’n Etiopiër, se winkel, Sarebo, is op die hoek van Thabo Mbekistraat, die hoofroete deur die dorp, en Nelson Mandelalaan.

Volgens ’n werker, wat net as Moosa bekend wil wees uit vrees vir sy lewe, was hy ’n ooggetuie van die voorval. Hy het op die toneel aan Die Pos gesê vier gewapende mans het kort voor 19:00 die winkel binnegekom. Een van die rowers het met die intrapslag sy pistool oorgehaal en dadelik geld van Sarebo geëis. Sarebo, wat agter die toonbank was, het glo afgebuk en drie skote is op ’n kort afstand met ’n 9 mm-pistool gevuur. Al drie skote het hom in die bors getref. Volgens Moosa is hulp dadelik ontbied. Sarebo is na ’n nabygeleë kliniek gehaas, maar was met sy aankoms daar reeds dood.

Volgens Moosa het hy die rowers nog nooit vantevore in die winkel gesien nie.

Die rowers het in ’n onbekende motor, wat aan die oorkant van Thabo Mbeki geparkeer was, op die vlug geslaan. Die kringtelevisiekameras binne die winkel het ’n duidelik beeld van die rowers verskaf. Die rowers het nie iets gedra om hul gesigte te bedek nie.

Frans Grobler, ’n lid van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), was ongeveer 18:45 in die winkel om ’n koeldrank te koop.

“Ek was by die koeldrankyskas en toe ek omdraai het ’n persoon wat wou inkom skielik by die deur omgedraai, maar ek het nie onraad vermoed nie,” het hy aan Die Pos gesê.

Met sy aankoms by die polisiestasie, ’n blok van waar die voorval plaasgevind het, het die kliniek gebel om te sê Sarebo is dood.

“Toe ek die laken oplig, kon ek nie glo dit is dieselfde man by wie ek so pas ’n koeldrank gekoop het nie,” het Grobler gesê.

Die polisie was reeds op die toneel en die forensiese span van Modimolle het beeldmateriaal by ’n aangrensende winkel verkry.

Volgens Kobus van Loggerenberg, voorsitter van die GPF in Mookgophong, is hy eers byna twee uur ná die voorval in kennis gestel van die gebeure. “As ons net vroeër geweet het, kon ons die paaie afgesper en moontlik die rowers aangekeer het,” het hy aan Die Pos gesê.

Dit is nog onseker of die rowers net geld wou hê en of daar enige ander motiewe was.

Sarebo se liggaam is op Vrydag 22 Junie na Etiopië geneem waar hy op Saterdag 23 Junie in sy land van herkoms begrawe is.

Die polisie in Mookgophong ondersoek die saak, maar niemand is nog aangekeer nie.

Related Articles

Back to top button