Waar kom aftrede vandaan?
Deesdae is mense se werkomstandighede nie meer liggaamlik so veeleisend nie. Masjiene en rekenaars het meestal die plek van harde handearbeid oorgeneem
Baie ver terug in die geskiedenis van die mens was aftrede ongehoord.
Mense het gewerk totdat hulle letterlik dood neergeslaan het — ongeveer op die ouderdom van 20 jaar! Die natuurelemente en die eise van oorlewing was genadeloos. Leef en werk was soos vinkel en koljander — as jy geleef het, het jy gewerk. So was dit deur die eeue heen, tot kort voor die industriële rewolusie.
Volgens die internetbron Wikipedia het gesinne daarna uitmekaar begin spat. Jongmense het in die stede gaan werk pleks daarvan om die leisels by hul ouers op die plaas of in klein tuisbedrywe en sakeondernemings oor te neem.
Hoewel masjiene die meeste van die werk tydens dié rewolusie gedoen het, was handearbeid steeds nodig. En dit was swaar. Hoe ouer mense geword het, hoe stadiger het hulle gewerk. Die geldwolwe moes ‘n plan bedink om van die ou “lasposte” ontslae te raak sodat jong, vinnige werkers kon oorneem.
En dit is waar aftrede “ontwerp” is. Op ’n sekere ouderdom mag jy nie meer werk nie, het die owerhede gesê.
Dit het mense baie benoud gemaak, want waarvan sou hulle leef? Van pensioen, is daar toe gesê. Vir jou lojaliteit betaal ons jou ‘n bedraggie per maand totdat jy sterf. Dit was destyds redelik gerieflik vir die base, want min mense het ouer as 65 geword.
Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog moes fabrieksbase egter skielik skarrel om werkers te kry omdat baie van die jonger mense in die oorlog geveg of ander dienste verrig het. Werkgewers het ouer mense gelok deur voordele soos mediese- en pensioenvoordele. Op die koop toe het dit mense ’n vals gevoel van sekuriteit gegee. “Iemand” sal na hulle gesondheid en oudag omsien, dit hoef nie meer vir hulle ’n kopseer te wees nie, het baie gedink.
Ná afloop van die oorlog is die ouer werknemers se kontrakte beëindig en daar is weer lewe in aftrede geblaas. En in werksvoordele. Eienaardig hoe almal voorheen daarsonder kon klaarkom en hoe die mensdom binne ’n paar dekades gebreinspoel is dat dit “so moet wees”.
Omdat baie ouer mense nooit ten gunste van aftrede was nie, het instellings begin om dit anders te bemark — as die “goue jare”. Daardie welverdiende ruskans. Iets waarna ’n mens kan uitsien. Teen 1975 was aftrede ’n aanvaarbare idee.
Deesdae is mense se werksomstandighede nie meer liggaamlik so veeleisend nie. Masjiene en rekenaars het meestal die plek van harde handearbeid oorgeneem en daarom is mense gesonder, leef langer en tree dikwels springlewendig af .
Waar ‘n mens se lewe vroeër in drie fases verdeel is: jonk, middeljarig en oud, is daar nou ’n nuwe, vierde fase.
Glen Hiemstra, ’n toekomskenner en skrywer van die boek Turning the Future into Revenue, beveel selfs ’n “sabbatstydperk” in die middeljare aan. Hy voel so sterk daaroor dat hy meen dit regverdig ’n beleid wat bepaal dat jy in jou vyftigs ’n paar jaar moet “af” kry sodat jy jou nuwe loopbaan kan bedink en daarvoor kan voorberei.
Dit beteken natuurlik dat toekomstige “afgetredenes” terug skool toe sal gaan om nuwe vaardighede aan te leer en hulle vir ’n nuwe loopbaan te kwalifiseer en nie bang moet wees vir tegnologiese vooruitgang nie.
Daar is onlangs aangekondig dat dit oorweeg word om die aftreeouderdom van professore in Suid-Afrika te verhoog van 60 tot 80. Die onderwysowerhede het (gelukkig) besef dat waardevolle kennis en ondervinding verlore gaan wanneer professore ‘n universiteit verlaat. Aangesien al hoe meer jongmense opdaag om ’n universiteitskwalifikasie te behaal, is al hoe meer professore nodig.
Maar om van hierdie “tweede of derde” lewe ’n sukses te maak, moet ’n mens jouself oppas. Leef gesond, bly aktief, stel belang, doen verskillende goed.
Raak gemaklik met verandering en gaan soek sommer daarvoor. Luister na verskillende sienswyses en ontwikkel die vermoë om verskille en verskeidenheid te aanvaar. Reis. Leer ’n nuwe taal praat. Want uiteindelik het die mensdom uit die kloue van die industriële rewolusie ontsnap.
Bronne: www.wikipedia.org, www.voelgoed.co.za, www.seattletimes.com/nation