CrimeNews

Man in hof oor 14-jarige meisie se verdwyning

’n Man is volgens die polisie op Saterdag 16 Junie op ’n plaas etlike kilometers buite Lichtenburg in hegtenis geneem waar hy en die meisie glo in ’n tent gewoon het.

’n Geskeide pa van vier wat daarvan aangekla word dat hy ’n 13-jarige meisie van Modimolle ontvoer en byna vyf maande lank voortvlugtend met haar was, het op Woensdag 20 Junie vlugtig in die streekhof in Modimolle verskyn.

Volgens die polisie word verskeie klagte wat verband hou met seksuele dade met ’n minderjarige teen die man (47) ondersoek.

Hy is volgens die polisie op Saterdag 16 Junie op ’n plaas etlike kilometers buite Lichtenburg in hegtenis geneem waar hy en die meisie glo in ’n tent gewoon het. Hy is sedertdien in polisie-aanhouding.

Die meisie se naam mag ingevolge wetgewing nie bekendgemaak word nie omdat sy minderjarig is en weens die aard van die oortredings wat teen die man ondersoek word.

Die man se naam mag eers genoem word wanneer hy op die aanklagte teen hom pleit. Die polisie, haar familie, groepe vir vermiste kinders en Die Pos het wyd oor haar verdwyning berig.

Die man se inhegtenisneming was die uiteinde van ’n maandelange soektog na hom en die meisie nadat hulle op Dinsdag 23 Januarie tussen neus en ore verdwyn het. Die meisie het by familielede in Modimolle gewoon.

Van haar familielede het destyds aan Die Pos gesê dat sy nooit die middag van die skool af teruggekeer het nie en hulle nie weer van haar gehoor het nie. Sy het sedert haar verdwyning verjaar en 14 geword.

Die skraalgeboude man het tydens sy hofverskyning Woensdag ’n blou sweetpakbaadjie en T-hemp aangehad en het met ’n sagte stem op vrae van die landdros geantwoord. Sy hare was netjies gesny. Die meisie, ondersteun deur twee familielede, het ook sy hofverskyning bygewoon.

Die man het aansoek gedoen om regshulp en moet weer op Maandag 2 Julie in die hof verskyn nadat sy polisieprofiel voltooi is. Hy bly in aanhouding.

Hoewel daar wyd en syd na die meisie op sosiale media gesoek is, het Die Pos verneem dat ’n wakker lid van die gemeenskap van Lichtenburg die deurslag in die polisieondersoek gegee het toe hy die twee herken het. Hulle het in ’n tent op ’n plaas etlike kilometer buite die dorp gewoon, het kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale woordvoerder, vroeër gesê.

Hulle het na bewering van blikkieskos geleef.

’n Plaaslike veiligheidsgroep het glo die polisie bygestaan en die gebied omsingel, waarna die man in hegtenis geneem is.

Die polisie se kinderbeskermingseenheid in Modimolle se ondersoek is glo telkens gekniehalter deur vals inligting wat verskaf is. Van die meisie se familie was deurentyd bekommerd dat die man hulp van elders af ontvang het.

’n Familielid het aan Die Pos gesê hulle is verlig dat sy veilig tuis is en dat hulle baie aandag en liefde aan haar sal gee. “Ons kyk baie mooi na haar.”

Related Articles

Back to top button