CrimeNews

Omstandighede rondom diefstal verdag

Die diewe het na verneem word twee kluise met hoekslypers oopgesny en die kontant en selfone gebuit.

Die Foschini-klerewinkel by die Bela Mall in Bela-Bela is in die vroeë oggendure van Saterdag 9 Junie van duisende rande se selfone en kontant beroof.

Volgens die polisie en sentrumbestuur is die omstandighede rondom die misdaad baie verdag.

Diewe het glo van agter die sentrum toegang tot die dak van die klerewinkel gekry. Daar het hulle ’n gat in die dak gemaak, het Greyling Lamprecht, die nuwe sentrumbestuurder, aan Die Pos gesê. Die inbraak het glo tussen 00:40 en 02:00 plaasgevind.

Die winkel se alarmstelsel was reg onder die plek waar die diewe die gat gemaak het. Die alarm het afgegaan kort voordat hulle dit ontkoppel het.

Lamprecht het gesê die winkel se hoofkantoor het die sein ontvang en die veiligheidswagte wat op daardie stadium hul rondtes gedoen het, het voor en agter die sentrum ondersoek ingestel. Hulle het skynbaar niks verdags opgemerk nie, het Lamprecht gesê.

Die diewe het na verneem word twee kluise met hoekslypers oopgesny en die kontant en selfone gebuit. Lamprecht het gesê die diewe het die verpakking waarin die selfone was agtergelaat en verdwyn.

Lt.kol. Abel Phetla, speurtakhoof van die Bela-Bela-polisie, en Lamprecht meen dit is uiters verdag dat die wagte nie gehoor het toe die kluise oopgesny word nie. Hulle vind dit verder vreemd dat die diewe geweet het waar om die gat te maak — presies bokant die alarmstelsel.

Die drie wagte is intussen geskors hangende ’n ondersoek, het Lamprecht gesê.

Phetla het gesê die polisie ondersoek tans ’n saak van huisbraak en diefstal. Lampbrecht het aan Die Pos gesê sedert hy by die sentrum aangestel is, probeer hy om die veiligheid by die sentrum te verbeter. “Ek vestig gereeld ons wagte se aandag daarop dat so iets enige tyd kan gebeur,” het Lamprecht gesê.

* Bejaardes in Bela-Bela word volgens die polisie by inkopiesentrums geteiken en van hul persoonlike items beroof. Bejaardes se aandag word gewoonlik deur ’n booswig in winkels afgetrek en ’n ander boef steel dan iets sodra hulle nie kyk nie, het Die Pos vroeër by die polisie gehoor.

Die polisie waarsku ook dat vroue nie hul handsakke in trollies moet los nie en altyd seker moet wees dat hul handsakke toe is. Mans word aangeraai om hul selfone en beursies diep in hul sakke weg te steek.

Lamprecht het gesê inwoners moet meer paraat wees die oomblik as hulle hul huise verlaat.

“Wees die heeltyd bewus van wat rondom jou aangaan by sentrums en nader ’n veiligheidswag sodra jy onveilig voel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button