CrimeNews

Verdediging ondervra spoorsnyer in Rooiberg-saak

Volgens hom het een stel spore oor die pad verdwyn en die ander stel het tot by ’n sementdam gelei waar een van die verdagtes, asook ’n kluis, gevind is.

Een van die spoorsnyers in die ondersoek na die moord op Piet Venter van Rooiberg, wat in November 2015 op sy plaas vermoor is, was die afgelope week in die getuiebank.

Ben Engelbrecht van die Heritage Protection Group (HPG) het getuienis gelewer oor hoe hulle twee stelle spore vanaf die huis gevolg het. Volgens hom het een stel spore oor die pad verdwyn en die ander stel het tot by ’n sementdam gelei waar een van die verdagtes, asook ’n kluis, gevind is.

Die regsverteenwoordigers vir Ruben Miles, JP Johannesse, Mona Oosthuizen, Christopher Joubert en Louisa Ricco het Engelbrecht kruisondervra. Johan du Toit, wat aanvanklik saam aangekla was, het vroeër vir die staat getuig.

Die hof was leeg behalwe vir enkele familielede van die beskuldigdes.

Een van die prokureurs het dit aan Engelbrecht gestel dat belangrike inligting nie deel van die verklaring was nie. Die prokureur het ook gesê daar is geen gipsafdrukke van die spoor gemaak nie en dit is nie saam met die verdagte se skoen laboratorium toe gestuur vir verdere toetse nie. Die skoen self is nie bewaar is nie. Engelbrecht het gesê dit was die werk van die polisie se forensiese eenheid.

Die saak sal in September hervat word. Die staat het aangedui dat hulle nog getuies gaan roep. Miles en Johannesse bly in aanhouding en Oosthuizen, Joubert en Ricco se borgtog is verleng.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button