Local newsNews

Inwoners diep getref deur perdeliefhebber se dood

“Ek het wakker geword terwyl ek in die gras gelê het.”

Die skielike dood van Maxine Lewis (28) van Mookgophong het die gemeenskap diep geraak en verslae gelaat.

Sy en haar man, Dennis Lewis, was op Sondag 10 Junie in ’n gru-botsing reg van voor op die Molotopad betrokke. Die egpaar het sedert hul troue op 22 April 2017 in Rayton, Gauteng, gewoon.

Volgens Dennis was hulle teen 06:00 na Saddle Ridge-ryskool onderweg om perde te laai vir deelnemers wat aan ’n perdry- en perdspringkompetisie sou deelneem toe die ongeluk gebeur het.

“Ons was omtrent so 3 km van die huis af toe ’n Fortuner om ’n draai aan my kant van die pad aangekom het. Dit is al wat ek kan onthou,” het hy aan Die Pos gesê.

Die twee voertuie het reg van voor gebots. “Ek het wakker geword terwyl ek in die gras gelê het en my broer gebel, of so sê hulle, want ek kan dit nie eens onthou nie.”

Maxine se ma, Irene Coppin, wat by hulle gekuier het, is deur Dennis se broer, Jaco Lewis, en sy vrou, Che, na die toneel ontbied. Daar moes sy toekyk hoe haar enigste kind, waarvoor hulle 12 jaar gewag het, uit die wrak gesny word. Che is ook ’n geliefde niggie van Maxine en hulle was van kleins af beste maats.

Maxine is bekend in perdrykringe en het vir baie jare ’n perdryskool net buite Mookgophong gehad. Sy het saam met haar ouers, Geoff en Irene Coppin, op hul plaas buite Mookgophong gewoon.
Sy het ’n passie vir kinders gehad en het gratis perdrylesse aan gestremde kinders gebied.

Maxine het op die plaas grootgeword en aan Hoërskool Hans Strijdom gematrikuleer. Daarna het sy ’n kursus in dierewetenskap aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie in Pretoria gevolg. Haar ongelooflike passie vir die lewe, diere en mense is een van die dinge wat vir ewig in haar ouers se harte sal wees, het Irene aan Die Pos gesê.

Die ruiters van Saddle Ridge het tydens haar roudiens op Vrydag 15 Junie by die Metodiste Kerk in Mookgophong hul perdryuitrustings gedra om eer aan hul geliefde instrukteur te bewys. Die ruiterklub van Bela-Bela het ook hul laaste eer betoon. Die klein, rooi baksteenkerkie was stampvol en stoele moes buite uitgepak word. Sommige begrafnisgangers het tot by die hek gestaan.
Irene het groot lof vir die gemeenskap, vriende en familie gehad vir hul ongelooflike ondersteuning tydens hierdie hartseer tyd.

“Sy was lief vir die lewe en vir alle diere — groot en klein. Sy het voluit geleef. Ons het vir 28 spesiale en mooi jare die mees besondere dogter gehad,” het Irene in ’n boodskap aan Die Pos geskryf.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button