Local newsNews

Verlamde Koben beweeg vingers

Personeel en lede van Hoërskool Warmbad se uitvoerende komitee (UK) het op Donderdag 7 Junie vir Koben Hofmeyr (15), ’n leerder aan Hoërskool Louis Trichardt, in ’n hospitaal in Pretoria besoek.

Koben se nek is op Saterdag 26 Mei baie ernstig beseer tydens ’n rugbywedstryd tussen Hoërskole Warmbad en Louis Trichardt op die Warries se tuisveld. Koben was kaptein van sy skool se o.16A-span.

Koben sterk tans in die hoësorgeenheid van die Groenkloof-hospitaal (voorheen Little Company of Mary) aan. Sy pa, Trompie, het aan Die Pos gesê sy seun is sedert die besering van die bors af ondertoe verlam.

Lees ook: Warries gaan kuier vir Koben

Trompie het op Dinsdag 12 Junie goeie nuus met Die Pos gedeel en gesê Koben kan al van sy vingers beweeg.

Paul Liddle, skoolhoof van Hoërskool Warmbad, Johan Loubser, sporthoof en UK-lede JD Fourie, Erika Enslin en Su-Mel Meyer het Koben in die hospitaal besoek waar hulle hom bemoedig het. Jackie Huysamen, lid van die skool se beheerliggaam, was ook saam. Sy is ’n fisioterapeut in Bela-Bela en het aangebied om Koben ook met fisioterapie te help.

Liddle het in die hospitaal aan Koben gesê hy het ’n “baken van hoop” vir baie van Hoërskool Warmbad se leerders geword het. “Ons bid daagliks vir jou en wens jou sterkte toe, want jy wys hoe iemand positief kan wees in slegte omstandighede. Ons glo die Here sal saam met jou wees en ek weet die dokters sal die regte besluite neem.”

Loubser het op sy beurt aan Koben gesê baie mense bid vir hom. Hy het gesê Koben is ’n fighter.

Liddle het ’n belofte aan Koben gemaak dat die skool ’n geldelike bydrae tot sy mediese sorg sal maak. Dié skenking is moontlik gemaak deur die skool se beheerliggaam. Die skool beoog ook om verdere fondsinsamelings vir Koben te hou.

Die groep het daarna vir hom gebid en hom ’n spoedige herstel toegewens.

“Ons bly positief oor die pad vorentoe, want negatiwiteit gaan niks verander nie. Koben se bloeddruk is nog ’n probleem, maar ons glo hy gaan oor twee weke met rehabilitasie kan begin,” het sy pa gesê.

“Almal het op die dag van die besering gedoen wat hulle kon doen. Ek is net bly dat ek my kind onder die omstandighede steeds kan inspireer, want hy het ook maar sy af dae.”

Die Koben Hofmeyr-fonds is ná die besering gestig om te help om vir Koben se behandeling te betaal.

Trompie het gesê samesprekings word gevoer om te kyk of dié fonds ook ander jong rugbyspelers in die provinsie wat in die hospitaal beland het, kan help.

Bekende rugbyspelers soos Victor Matfield en Jesse Kriel, asook Steve Hofmeyr, het Koben al in die hospitaal besoek om hom te ondersteun. Talle skole het hom ook ’n spoedige herstel toegewens.

“Die dokters het op hierdie stadium nie veel klagtes nie, maar oor ses maande sal my sensoriese vaardighede al hopelik baie verbeter het,” het Koben gesê.

“Dankie vir almal se gebede en ondersteuning — die mense is regtig ongelooflik. Dit is al wat my hoop gee en positief hou.”

* Besoek die Koben Hofmeyr-fonds se Facebook-blad vir meer inligting.

Related Articles

Back to top button