Local sportSport

Rugbyklub vaar uitstekend

Die Naboomspruit-rugbyspan in Mookgophong het vanjaar ná vier jaar weer begin rugby speel en ding mee in die Limpopo suidelike liga.

Johan van Heerden rig die span af. Lebu van Heerden, een van die spelers, het aan Die Pos gesê hulle het ses van die sewe wedstryde wat hulle die afgelope agt weke gespeel het, gewen.

“Die enigste wedstryd wat ons verloor het, was teen Thabazimbi op hulle veld. Ons lê nou tweede van die sewe spanne op die punteleer,” het hy trots vertel.

Die span bestaan almal uit oudleerders van Hoërskool Hans Strijdom, met die uitsondering van die binnesenter, Adriaan Pont. Die oud-Hansies het almal op hul dag vir die skool se eerste span uitgedraf. Hoewel Pont van die omgewing is, was hy ’n leerder aan Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria.

Van Heerden het gesê die senior spelers roteer om kaptein van die span te wees. Hulle besluit voor elke wedstryd wie die kaptein sal wees. Volgens hom speel die span werklik goed vir ’n span wat so lanklaas mededingend deelgeneem het en hy glo dat hulle vanjaar ’n goeie kans staan om die liga te wen.

Daar is met elke wedstryd wat op die Hansies se veld gespeel word ’n groot getal ondersteuners wat die koue trotseer om hul span aan te moedig. Die span het op Vrydag 8 Junie die span van Modimolle met 25-23 gewen.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button