Local newsNews

Nóg ’n bekende baken op Bela-Bela deur onverklaarbare brand verwoes

Bela-Bela SuperSpar, ’n groot deel van die Bela-Bela Waterfront, ’n sakesentrum op die hoek van Kretzchmar- en Lunaweg, die Feathers-restaurant en die Bela-Bela-polisiebarakke is almal deur brande verwoes.

Daar is duidelik nog geen einde aan die ongekende vlaag brande wat sake-eienaars van Bela-Bela tref nie.

’n Brand het in die vroeë oggendure van Maandag 4 Junie by die Kingfisher Nest-gastehuis se grasdakrestaurant net buite die dorp uitgebreek en die gebou in puin gelê. Die plek het voorheen as Strawberry Khaya bekendgestaan.

Die gastehuis is nie deur die brand geraak nie.

Volgens Magda Diederiks, bestuurder van Hartelief-kwekery, wat teenaan die gastehuis grens, het die brand kort voor 02:00 ontstaan.

Diederiks en haar gesin woon op die eiendom en het gesê hul hond, Clio, het hulle wakker gemaak toe die brand ontstaan het.

Volgens haar was dit vreesaanjaend toe die wind opgekom en die vlamme aangeblaas het.

Hulle het gou ingespring en ’n gedeelte op hul eiendom, wat die naaste aan die brand was, met ’n tuinslang natgespuit.

Gelukkig het die kwekery geen skade opgedoen nie.

Die Bela-Bela-brandweer was binne ’n halfuur nadat die brand uitgebreek het op die toneel en het die brand stelselmatig onder beheer gebring.

Die brandweertrok het egter naby die grensdraad teenaan die R516-pad na Thabazimbi in ’n oop sementgat vasgeval. Die trok het voor en onder skade opgedoen.

Die trok het teen dagbreek steeds in die gat vasgesit en die brandweerpersoneel is met privaat vervoer terug na die brandweerstasie geneem, het Diederiks gesê. Thipe Dlamini van die munisipaliteit het by navraag aan Die Pos gesê die trok is intussen herstel.

’n Brandweerwa het tydens die brand wat in Mei by die Bela-Bela Waterfront ontstaan het, ook vasgesit.

Die munisipaliteit se brandweertrok het tydens die brand in ’n sementgat beland en is beskadig.

Die brand by Kingfisher is teen 06:00 onder beheer gebring.

Proppie van Reenen, eienaar van die gastehuis, wou op hierdie stadium geen kommentaar oor die brand lewer nie aan-gesien die versekeraars, asook die polisie, tans besig is met hul ondersoeke.

Hy het wel aan Die Pos gesê die gastehuis met die restaurantgedeelte is tans in die mark.

“Alles is nog baie deurmekaar hier, maar ek wil graag almal wat tydens die brand gehelp het, bedank,” het Van Reenen gesê.

Volgens sers. Hester van Zyl, polisiewoordvoerder van die Bela-Bela-polisie, word ’n saak van brandstigting ondersoek.

Sy het gesê dit is nog nie bekend hoe en waar die brand ontstaan het nie en niemand is tydens die brand beseer nie.

Brande het ook die afgelope klompie jare die Bela-Bela SuperSpar verwoes, ’n groot deel van die Bela-Bela Waterfront, ’n sakesentrum op die hoek van Kretzchmar- en Lunaweg, die Feathers-restaurant buite die dorp en die Bela-Bela-polisiebarakke.

Die Pos het ook al berig oor tientalle huise in en om die dorp wat afgebrand het.

* ’n Sinkhuis in die Koppewaai-omgewing, op die Alma-pad buite die dorp, het ook die vorige dag afgebrand.

Lede van die Bela-Bela-munisipaliteit, wat Zachariah Moeletsi, die speaker, lede van die kommunikasieafdeling, asook risikobestuur ingesluit het, het die toneel op Maandag 4 Junie besoek.
Gerugte dat iemand die brand by die sinkhuis gestig het, het die ronde gedoen.

Salome Mahladisha, die slagoffer, wou nie met Die Pos praat oor wat gebeur het nie.

Thipe Dlamini, hoof van risikobestuur, het aan Mahladisha belowe dat die munisipaliteit nuwe boumateriaal aan haar sal verskaf, asook nuwe beddegoed.

Hy het ook belowe om met die departement van binnelandse sake in verbinding te tree oor haar identiteitsdokument wat in die brand vernietig is.

Hulle het verder gesê dat hulle met die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) in gesprek sal tree om kos-pakkies aan haar te voorsien.

Die polisie was tydens Die Pos se besoek op die toneel om verklarings te neem.

Die brand het plaasgevind op ’n gedeelte van Erf 1492 — die gedeelte waarop plakkers sedert 2013 onwettig woon.

Die hooggeregshof het in 2014 ’n bevel uitgereik dat die plakkers die grond moet ontruim, maar die bevel is nooit deurgevoer nie.

AfriForum het probeer om ’n aansoek te bekom om die oorspronklike bevel deurgevoer te kry, maar het dié aansoek intussen om geldelike redes laat vaar.

Hierdie gebied is tans sonder ’n wyksraads-lid sedert Kobus van der Merwe, DA-raadslid, in April bedank en die Bosveld vir die Wes-Kaap verruil het.

Die tussenverkiesing in die wyk vind op Dinsdag 17 Julie plaas.

Related Articles

Back to top button