CrimeNews

Vermeende aanvallers vlug ná hulp opdaag

“’n Mens dink jy is dapper, maar as daardie oomblik aanbreek, voel ’n mens magteloos."

Christo Venter, bokmelkboer van die Geluksfontein Bokmelkplaas tussen Vaalwater en Modimolle, het op Saterdag 2 Junie ’n noue ontkoming gehad toe meer as vyf mans sy plaashuis omsingel en gepoog het om die huis binne te kom.

Een van sy honde is tydens die voorval doodgeskiet.

Venter is die sekretaris van die Modimolle-polisiekring, asook voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in Vaalwater.

Volgens Venter het hy Vrydagnag 1 Junie begin onrustig raak. Hy het opgemerk dat sy Deense hond Vrydagaand om 23:00 “anders” geblaf het en heeltyd na die pad se rigting bly blaf en kyk het.

Hy het om 00:30 sy wolfhond by die skuifdeur laat inkom omdat die diere nie rustig wou raak nie, het hy aan Die Pos gesê.

Venter het eers later besef dat sy woning op daardie stadium reeds omsingel was.

“Ek het gedink ek hoor voetstappe op die stoep.”

Venter het eers om 04:00 ’n noodroep uitgestuur aangesien hy wou seker maak of daar wel betreders was en hy wou nie ’n vals alarm uitstuur nie.

Hy het gesê hy kon nie verstaan hoekom die mans so lank geneem het voordat hulle toegeslaan het nie. Toe een by die venster probeer inkom, was daar terselfdertyd een wat deur die dak wou kom.

“Ek het gewag dat die een op die dak moes skiet. Ek het alles reg probeer doen, want dán eers sou ek volgens wet mag skiet.”

“’n Mens dink jy is dapper, maar as daardie oomblik aanbreek, voel ’n mens magteloos. Dan het jy nie jou bril op nie. Jy sien nie jou selfoon raak nie en jy is te benoud om dit aan te skakel, want die liggie brand dalk te helder, of die klank kom dalk hoorbaar deur,” het Venter vertel.

Hy was teen daardie tyd só benoud dat sy stemtoon, net soos met die Van der Merwe-aanval op Vrymansrust, die gemeenskap aan die hart geruk het toe hy eindelik op die GPF se WhatsApp-groep om hulp vra.

Volgens hom was die reaksietyd ná sy noodroep baie vinnig en 11 voertuie het binne 10 minute daar aangekom. “Dit is werklik uitstekende reaksietyd as ’n mens in ag neem hoe ver ons buite Vaalwater is.” Hy het minstens twee betreders gesien wat koeëlvastebaadjies gedra het. Hy vermoed die booswigte is afgeskrik deur die aankoms van die eerste voertuie.

Venter het dadelik sy werkers laat weet om versigtig, maar op die uitkyk te wees aangesien hy vermoed het dat die rowers naby die werkershuise sou verby beweeg. Dit was nie volmaan nie, maar die werkers kon drie mense in daardie rigting sien.

Agterna het hulle gevind die rowers het die drade by die pad geknip. Dit is ook daar waar hulle Venter se hond, Gina, met ’n kopwond gevind het. Daar was geen patroondoppie naby nie, het hy gesê. Daar was spore van een rower wat in die Modimolle-rigting gevlug het.

“Ek vermoed hulle het die hond naby die pad geskiet in die hoop dat ’n voertuig sou stilhou om óf die reaksietyd te vertraag óf om met ’n gesteelde voertuig te vlug,” het Venter bespiegel.

Venter het gesê die stelsel vaal die gemeenskap in baie opsigte. As ’n mens moet wag tot die oomblik dat jou lewe in soveel gevaar is dat jy nie reguit kan dink nie, is dit onregverdig. As ’n mens jouself mag beskerm die oomblik as jou perseel betree word, sal die situasie meer regverdig wees, het hy gesê.

Veiligheidsgroepe doen ’n ernstige beroep op die gemeenskap om hul GPS-koördinate aan die veiligheidsgroep se administrateur te stuur. Bejaardes moet dit veral ook so gou moontlik doen. Honde moet opgelei word en dit is goed om een in die huis aan te hou. Moenie bang wees om ’n vals alarm te maak nie, het Venter voorgestel. “Liewer bang Jan as dooie Jan.”

Volgens die polisie word die saak ondersoek. AO Petrus Lefoka van die Vaalwater-polisiestasie, het aan Die Pos gesê nog niemand is al in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button