BlogsOpinion

Hoofartikel: Sakelui sweet bloed

Sakelui moet deesdae hul sit in die spreekwoordelike sakesaal ken om hul ondernemings se deure oop te hou.

Buiten die eise en vereistes wat onder meer deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, die departement van arbeid, vakbonde en munisipaliteite aan klein, middelslag- en mikro-ondernemings (KMMO’s) gestel word, moet daar ook rekening gehou word met verhoogde insetkoste en ’n verbruikersmark wat lamgelê word deur die huidige swak ekonomie.

Om nog verder sout in die wonde te vryf, dryf Modimolle-sakeondernemings reeds die afgelope drie maande handel met die Eskom-swaard oor hul koppe. Dié kragreus dreig om die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit se kragtoevoer vir die grootste gedeelte van die dag af te sny indien dié munisipaliteit, wat onlangs onder administrasie geplaas is, nie die agterstallige kragrekening delg nie.

Indien Eskom deurdruk met sy planne, sal dit beteken dat sakeondernemings groot verliese kan lei en sommiges sal selfs hul deure moet sluit.

Om alles te kroon, blaas die misdaadmonster ook in sakeondernemings se nekke. Ster Radio,’n bekende sakeonderneming in Modimolle, se eienaar, Eben Erasmus, was die afgelope week moedeloos oor die inbraak wat by dié onderneming plaasgevind het.

Ster Radio is ’n gevestigde sakeonderneming in die Waterberg wat met die stigting van Die Pos in 1982 een van die koerant se eerste adverteerders was. Lesers kon vir baie jare hul geklassifiseerde ad-vertensies by dié onderneming indien.

Diewe het in die nag deur die dak toegang tot die winkel verkry en on-geveer R250 000 se skade aangerig. Erasmus se woorde dat ’n mens aan iets bou en “dan word dit afgebreek” verwoord menige sake-lui se moedeloosheid met die stand van sake in Suid-Afrika.

Dit is slegte nuus as selfs bedrewe hande in die sakewêreld moedeloos is.

Dit is werklik vir sakelui van klein ondernemings, veral in die platteland, moeilik om in die huidige politieke en ekonomiese klimaat in die land, positief te bly. Inwoners in die dorpe van Die Pos se verspreidingsgebied moet sakelui se hande op die oomblik sterk maak.

Dit is daarom prysenswaardig dat die Waterberg-sakekamer tans sakelui op ’n merkwaardige wyse ondersteun tydens die Eskom-kragkrisis wat dreig. Dié sakekamer verdien ’n pluimpie vir die feit dat hulle geen tyd en moeite ontsien om die belange van die sakeondernemings in die betrokke munisipaliteit voorop te stel nie.

Related Articles

Back to top button