Local newsNews

Ou nuusblad laat redaksiespan ver terugdink

Koerantmense hou mos gewoonlik van argiewe, ou stories en statistieke. Seker dié dat die redaksie van ons Bela-Bela-kantoor skoon gaande was oor ’n ou uitgawe van Die Waterberger, ’n “foto-nuustydskrif vir die Bosveld en Vlakte”.

Die betrokke uitgawe (volume 1 nommer 9) is in Januarie 1986 uitgegee — sowat vier jaar nadat Die Pos op 8 Oktober 1982 gestig is.

Die Waterberger, wat “as nuusblad by die Departement Binnelandse Sake geregistreer” was, het intussen sy deure gesluit. Tog roep die lees van die berigte en veral die foto’s en advertensies baie nostalgiese herinneringe op.

Van die adverteerders in die blaadjie was desjare groot sakeondernemings in plekke soos die destydse Nylstroom: Joe’s Motordienste, Waterberg Meule, Salon Mia Mo (vir die nuutste modes in mans- en dameshaarstyle), Hannes van Zyl Vervoer (sand, stene en klip), Nylstroom Toyota en Stokkiesdraai motel en vakansieoord.

Uit Naboomspruit het Bosveldpark hul Bosveldstyl — leef na aan die natuur — geadverteer, met Maroela Makelaars as alleenagent. Daar was ook JJ Paneelkloppers, Tobe Ingenieurswerke, Mentjes Omheining (vir alle tipes van draadheinings, hekke en binneafskortings) en Nyl Tune-up Centre.

Verder is daar advertensies van die Koedoeskop-slaghuis en Morpiet Brake Services in Potgietersrus.

Op die nuusfront was daar baie te sê oor dié jaar se bekende Nylstroom Druiwefees — ’n fees wat jarelank sinoniem met dié dorp was en vanjaar vir die eerste keer in dekades nie weer aangebied is.

Daar is foto’s van die spesiale Druiwefees-stroomtrein wat na Vaalwater vertrek met sy vrag van 480 passasiers, Cas Oberholzer, hooforganiseerder van die fees met sy draagbare luidspreker en Franna en Innes Benadé wat by die fees optree.

Politiek was natuurlik ’n vuurwarm onderwerp in dié tyd in die Waterberg en twee bladsye is gewy aan die pasafgelope Geloftefeesvieringe in Potgietersrus wat ’n tjokvolsaal getrek het. “Doktor versus doktor” lui die opskrif, waarin groot gewag gemaak word van wyle dr. Andries Treurnicht, KP-leier, se feesrede waarin hy uitvaar teen prof. Floors van Jaarsveld, wat “losgetrek het oor Afrikaners”.

Verder is daar in die blad mooi komplimente van ’n gesin van “die Rand en Middelburg” wat vertel van die besonderse diens wat hulle by die Orinoco Hotel in Potgietersrus ontvang het.

Lesers kon ook kyk na foto’s van ’n groep Warmbadse perderuiters wat ’n span van 13 jong Spoorwegpolisiemanne deur die dorp begelei op hul eerste skof van ’n draftog vanaf Pretoria na Messina vir die insameling van fondse vir die voltooiing van die laaste gedeelte van die Anglo Boereoorlog-gedenkprojek by die Vrouemonument buite Bloemfontein.

Om lesers so ’n idee te gee wat dinge gekos het, hier is ’n paar items uit die kleinadvertensies: ’n Volkswagen Passat-stasiewa 1984-model in ’n baie goeie toestand se paaiement kon teen R330 per maand oorgeneem word en vakansie-akkommodasie by Costacabana in Uvongo in Natal word geadverteer teen R16,95 per dag (etes ingesluit).

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button