Local newsNews

Groep bied ondersteuning aan slagoffers van misdaad

Helpende Hand in Mookgophong het in samewerking met die DLU Potgietersrus die inisiatief geneem om vroue uit boereverenigings en gemeenskappe te nooi om diensbaar te wees met die traumabehandeling van slagoffers van plaasaanvalle binne hul direkte gemeenskap en omgewing.

Dié groep staan as die Nagtegale bekend.

Volgens Renita Prinsloo, die groep se takvoorsitter in Mookgophong, is ’n leemte geïdentifiseer waar plaasaanvalslagoffers nie noodwendig die nodige en kundige ondersteuning kry nie.

“Die Nagtegale wil ook poog om die druk op reaksiespanne te verlig sodat hulle hul aandag kan wy aan die agtervolging van verdagtes,” het sy gesê. Die Nagtegaalvroue ontvang deurlopend opleiding in basiese traumabehandeling en wetlike aspekte. Gekoördineerde ondersteuning aan slagoffers waar nodig behels skakeling met noodvoertuie, skakeling met polisie, bystand tydens die neem van verklarings, bystand met mediese ondersoeke, basiese behoeftes soos kos, kinders se vervoer, opruim van tonele en die skoonmaak van huise, asook die omsien na troeteldiere en die bywoning van en ondersteuning tydens hofverrigtinge.

Helpende Hand is ook besig om takke binne die Waterberg-omgewing te stig, waarna hulle graag wil uitbrei na die noorde van Limpopo.

Pauli Paskin, van die Nagtegaaltak in Mookgophong, het reeds drie egpare gehelp met berading en die opvolg van sake. Volgens Hennie Coertze, wat op Dinsdag 8 Mei in die Bela-Bela-omgewing aangeval is, was Paskin ná die aanval baie gou by hom en sy vrou, Maria. “Sy was so vinnig hier en was aangenaam. Sy het ook met my dogter in die Kaap gepraat. Sy het ons bygestaan en doen steeds. Ons sukkel maar om die ‘prentjie’ uit ons koppe te kry,” het hy aan Die Pos gesê.

Volgens Paskin was die egpaar baie erg geskok. “Ek het gereël dat die egpaar berading ontvang en kon hulle bystaan totdat hulle heeltemal gekalmeer het. Ek volg ook gereeld met hulle op en sal dit vir minstens ’n jaar doen,” het Paskin gesê.

Sy het ook gesê dat sy vir Chris en Alet Janse van Vuuren, ’n egpaar wat op 21 Mei aangeval is, bystaan.

“Ons is gedurig in kontak met die groep en hulle ondersteun ons as ons iets nodig het. Soms gaan dit nie goed met ons nie, die toneel speel maar oor en oor in jou kop, maar ons werk daaraan. Ek dink ek hanteer dit op hierdie stadium so ’n klein bietjie beter as my vrou,” het Chris aan Die Pos gesê.

Magriet Botes en haar man Piet, wat op Woensdag 21 Februarie in die Tuinplaas-Settlers-omgewing aangeval is, het ook ondersteuning van Paskin en die Nagtegale ontvang. “Pauli was een van die eerste mense by ons en sy het ook gereël dat ons by ’n sielkundige uitkom om verdere berading te kry. Drie verdagtes is aangekeer en nog niks is teruggevind nie. Ons lewe is maar nog op sy kop,” het Magriet aan Die Pos gesê.

Die tak se vroue sal deurlopend opleiding by AfriForum se Traumasentrum ontvang om hul behoorlik toe te rus om slagoffers ten beste by te staan en te ondersteun.

Die Nagtegale-takke sal in Junie byeenkom om duideliker gebiede en grense uiteen te sit om samewerking te vergemaklik.

Vir inligting vir die moontlikheid van takstigting in die area, bel vir Marianthie van der Walt by tel. 082 741 7858 of Corné Pohl by tel. 083 356 6463

Related Articles

Back to top button