LettersOpinion

Plaasaanvalle se statistieke bekend

Die laaste keer dat statistieke hieroor uitgereik is, was in 2007.

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, skryf:

Die VF Plus verwelkom die besluit van die minister van polisie, Bheki Cele, en die polisiekommissaris, genl. Khehla Sithole, om ná 11 jaar se swye oor plaasaanvalle en -moorde weer statistieke hieroor bekend te maak.

Die laaste keer dat statistieke hieroor uitgereik is, was in 2007. Die VF Plus het nogtans deurgaans in parlementêre vrae statistieke oor die aangeleentheid aangevra en dit is nou uiteindelik weer beantwoord.

Plaasaanval-statistiek onlangs bekendgemaak.

Die vraag het gehandel oor die aantal aanvalle en moorde in elke provinsie sedert 2012. Uit die antwoord blyk dit dat aanvalle in die laaste boekjaar (2017/2018) toegeneem het (561 aanvalle) nadat daar in die vorige drie jaar ’n afname was.

Uit die syfers blyk dit dat daar in die ses boekjare sedert 2012 altesame 3 059 aanvalle was (gemiddeld 509,8 per jaar) waarin 338 mense dood is (gemiddeld 56,3 per jaar).

Wat die provinsies betref was die meeste aanvalle in die tydperk in Noordwes met 722 aanvalle en dan Gauteng met 644 aanvalle. Die meeste moorde in hierdie tydperk was egter in Gauteng met 69 moorde en Noord-wes en KwaZulu-Natal met 61 moorde elk.

Indien die syfers vergelyk word met ander beskikbare bronne, lyk dit redelik betroubaar. Dit is jammer dat daar onder die bestuur van oudpres. Jacob Zuma ’n sluier hieroor getrek is.Sonder die nodige statistieke oor misdaad tas ’n mens in die donker rond en kan daar beswaarlik sinvolle optrede en voorkomende maatreëls getref word.

Die VF Plus sal intussen voortgaan met sy deurlopende aksieplan om die internasionale gemeenskap oor vergrype en veral die wreedheid van die moorde in Suid-Afrika in te lig deur aktief te skakel met onder meer die Europese parlement en regerings, die Verenigde Nasies (VN) en deur die VF Plus se lidmaat-skap van die Organisasie van Onverteenwoordigde Nasies en Volkere (Unpo).
In dié verband sal statistieke wat die regering self bekendmaak oor ’n aangeleentheid soos plaasaanvalle en –moorde veel meer gewig dra as dié van ander instansies.


For free daily local news in the Waterberg, visit Die Pos/The Post.

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages. You can also email our offices on diepos@icon.co.za or dieposnuus@icon.co.za


 

Related Articles

Back to top button