LettersOpinion

Wanneer is genoeg nou eintlik genoeg?

“Hoe lank nog? Hoe lánk nog? Hoeveel van ons nog? Hoe lank sal ons stilsit en hoop dit gebeur nie met my of my familie nie? Hoe lank nog verdra? Wanneer is genoeg nou genoeg?"

Dr. Roelof Coertze, Bela-Bela, skryf:

Die woord kanker stuur koue rillings teen enige regdenkende en verstandige mens se rug af — veral as dit aan jou eie bas vat — jyself, ’n geliefde, ’n kind, vriend of selfs ’n vreemdeling wat jy hoor of sien huil van pyn, met angs in sy oë vir die dood wat dalk wag.

Daar word miljarde rande se navorsing gedoen om kanker te behandel, voorkom en genees. Daar is kankerverenigings, spesialiste en menigtes wat help om die lyding te verlig en hoop te bring. Ons is almal betrokke en dra geldelik by om hierdie “monster” te keer.

As iemand kanker het en skree van die pyn, doen ons alles moontlik om daardie pyn onmiddellik weg te neem.

Ons noem dit genade, want kanker is ’n genadelose, vernietigende siekte wat die lewens van nie net die persoon nie, maar ook die familie en geliefdes verwoes.

Dieselfde genadelose, vernietigende en gruwelike “kanker” wat onder ons almal woed, ongeag wie of wat jy is, ongeag kleur of status, vreet in ons lewens en siele. Dit kom voor in die vorm van aanvalle, moorde en roof van onskuldige mense veral ons verswaktes, boere en bejaardes.

Hierdie “kanker” maak ons gevangenes in ons eie huise en beroof ons van die reg om vry te leef.

Dit woed ongestoord voort, sonder navorsing, sonder miljarde rande se regeringshulp en dikwels wonder ons of dit dalk goedgekeur word.

As my ma, wat nie eens self kan opstaan nie, ’n mate van demensie het en nie haar hande tot by haar eie mond kan oplig nie, skreeu van die pyn: “Jy maak my seer, asseblief, ek kry verskriklik seer, asseblief!”, dan trek die “kanker” net die elektriese draad al stywer en dwing haar hande en voete agter haar rug vas. Hy los haar so en loop met ’n televisie en skootrekenaar weg — genade-loos, wreed en met geen agting vir lewe of medemens nie.

Kanker verwoes en vernietig. As hierdie “kanker” wel opgespoor word, kry hy nie bestraling of chemoterapie nie. Nee, hy het regte. Hy kry gratis verblyf, kos en water wat met ons belastinggeld betaal word. As hy nie van hierdie land is nie, word hy nog gratis terugvervoer na sy land.

In ander lande het hierdie “kanker” ’n ander naam. Hulle noem dit terrorisme. As dieselfde dade oorsee gebeur, reageer die regerings baie sterk met skuldiges wat gejag word tot in hul eie lande, en as hul opgespoor word, word hulle uitgeroei en met alle mag en krag oortuig: In óns land is jy nie welkom nie.

Ons hoor egter tans in Suid-Afrika van die vernietiging, maar nie van die behandeling nie. “Hoe lank nog? Hoe lánk nog? Hoeveel van ons nog? Hoe lank sal ons stilsit en hoop dit gebeur nie met my of my familie nie? Hoe lank nog verdra? Wanneer is genoeg nou genoeg? Hoeveel kos en verblyf moet ons die “kanker” gee?

Hoe lank wil ons nog onbetrokke bly en die probleem net vir iemand anders laat?

Daar is reeds groepe wat ons pyn sien en voel. Groepe wat wel voel die geskree van pyn moet gehoor word. Hierdie groepe is die buurtwag in jou omgewing wat op eie koste en stoom betrokke is om hierdie “kanker” van jou deur weg te hou. Die ander groter organi-sasie is AfriForum, wat gereed en bereid is om die “kanker” te beveg.

Almal moet dringend erns maak om aan te sluit en betrokke raak. Ons moet saamstaan, ’n eenheid vorm om hierdie “kanker” se strot af te trap. Moenie wag totdat jy of jou gelief-des met hierdie gruwelike siekte te doen kry nie. Hou dop wat om jou gebeur, kyk uit vir verdagte persone, voertuie of gebeure en meld dit by die regte mense en instansies aan.

Indien jy hierdie oproep hoor en erns wil maak, skakel in by AfriForum deur jou dorp se naam te SMS na 45350 en hul sal jou kontak of stuur ’n e-pos na afriforumwarmbad@gmail.com(.) Janus Boshoff is Bela-Bela se AfriForum-kontakpersoon. Bel hom by tel. 072 492 7087.

Baie, baie dankie aan almal wat my ouers met soveel deernis en liefde ondersteun het in hul pyn. Alle eer aan die Here wat hulle beskerm het.

  • Hennie en Marie Coertze, dr. Roelof Coertze se bejaarde ouers, is verlede week by hul huis op die Alma-pad buite Bela-Bela vasgebind en beroof.

For free daily local news in the Waterberg, visit Die Pos/The Post.

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages. You can also email our offices on diepos@icon.co.za or dieposnuus@icon.co.za


 

Related Articles

Back to top button