Local newsNews

DA waarsku oor grondonteiening

Inwoners het gehoor dat die grootste vraag is na grond wat nader aan stede geleë is, eerder as landbougrond.

WAT AS DIE REGERING JOU PLAAS VAT EN JOU NIKS IN RUIL GEE NIE?

WAT AS JOU PENSIOEN EN HUIS OOK IN DIE SLAG BLY?

Dié kommer hou talle Suid-Afrikaners snags wakker nadat ’n mosie met 241 stemme teenoor 83 in Februarie in die parlement aanvaar is dat Artikel 25 van die Grondwet verander moet word sodat onteiening sonder vergoeding kan plaasvind.

Groot kanonne van die DA het die Waterberge op Maandag 21 Mei besoek om inwoners aan te moedig om voorleggings aan die parlement se grondwetlike hersieningskomitee te maak. Dié komitee sal landwyd met gemeenskappe vergader om inligting in te win.

Hulle het tot einde Augustus om na te vors of onteiening sonder vergoeding ingestel kan word — met die voorwaardes dat die ekonomie, landbou- en voedselproduksie nie daardeur geraak moet word nie.

Jacques Smalle, die DA se provinsiale leier in Limpopo, Thandeka Mbabama, skadu-minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, Desiree van der Walt, skadu-minister van openbare dienste en administrasie, en dr. Annelie Lotriet, skadu-minister van wetenskap en tegnologie wat ook op die komitee dien, het besoek afgelê in Modimolle, Mookgophong en Bela-Bela. Die raadslede van die onderskeie dorpe se wyke was ook teenwoordig.

Die afvaardiging het dit op inwoners se harte gedruk dat dit belangrik is om te verhoed dat die grondwet verander word om-dat die term “eiendom” nie net na grond verwys nie, maar ook huise, pensioene, beleggings en dies meer insluit.

Mbabama het ’n historiese agtergrond gegee en gesê dat die land se swart inwoners slegs 7% van die grond besit. Van die regering se doelwit om teen 1999 altesame 30% van die grond in dié inwoners se besit te hê, is slegs 8% teen 2016 aan hulle oorhandig. Talle van dié plase lê egter onbewerk. Sy het die mislukking toegeskryf aan korrupsie en die tekort aan kennis by die departemente.

Inwoners het gehoor dat die grootste vraag is na grond wat nader aan stede geleë is, eerder as landbougrond.

Lotriet het by haar aangesluit en gesê dat die ANC met dié stap probeer om die mat onder die EFF uit te trek deur grondonteiening hul eie boodskap te maak.
Sy het gesê pres. Cyril Ramaphosa het egter voorwaardes soos dat die ekonomie en voedselsekerheid nie benadeel moet word nie, ingebou.

“Die vraag wat die grondwetlike hersieningskomitee moet ondersoek is of dit wel nodig is om die Grondwet te verander om grondonteiening sonder vergoeding toe te laat,” het sy verduidelik.

Sy het gesê dat daar al 17 veranderinge aan die Grondwet gemaak is en dat daar nog verskeie artikels is wat grondbesit beskerm.

“Die wysiging sal geweldige ekonomiese gevolge hê. Doen asseblief voorleggings — dit hoef nie akademies van aard te wees nie,” het sy gesê.

Die voorleggings moet voor Vrydag 15 Junie ingedien word. Navrae en voorleggings kan aan Pat Jayiya gestuur word na pjayiya@parliament.co.za of sy kan gekontak word by tel. 081 441 0345 of tel. (012) 403 3661.

Die openbare verhore word op Woensdag, 27 Junie in Groblersdal gehou, Donderdag, 28 Junie in Mokopane, Vrydag 29 Junie in Giyani, Saterdag 30 Junie in Thohoyandou en op Donderdag 19 Julie in Rustenburg.


For free daily local news in the Waterberg, visit Die Pos/The Post.

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages. You can also email our offices on diepos@icon.co.za or dieposnuus@icon.co.za


 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button