Local newsNews

Waterberg-sakekamer vra hulp vóór Eskom ligte uitdoof

Die sakekamer benodig onmiddellik minstens R200 000 om ’n aansoek teen die provinsiale en nasionale tesourie en Eskom in te dien.

Spring in en help, want alleen kan ons dié krisis nie afweer nie.

Die boodskap dat die gemeenskap moet saamstaan om te keer dat Eskom die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit se krag binne enkele weke afskakel, is met dringendheid oorgedra tydens die Waterberg-sakekamer se vergadering verlede week.

Die sakekamer benodig onmiddellik minstens R200 000 om ’n aansoek teen die provinsiale en nasionale tesourie en Eskom in te dien. Adv. Evert van As het tydens die vergadering gesê dit blyk dat die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit reeds voor die samesmelting ernstige geldelik probleme ondervind het wat ná die samesmelting net vererger het en die owerhede het versuim om in te gryp. Hulle word volgens wet verplig om in te gryp. Die aansoek kan tot gevolg hê dat die munisipaliteit onder sakeredding geplaas word.

Die munisipaliteit skuld Eskom meer as R260 miljoen, het Marlene van Staden, burgemeester, bevestig. Die afbetalingsooreenkomste met Eskom is al herhaaldelik verbreek.
Henk Cilliers van die prokureursfirma Cilliers & Reynders Ing. en Van As het die sakekamer op Donderdag 17 Mei toegespreek. Cilliers & Reynders Ing. was die prokureurs wat in Maart vanjaar daarin kon slaag om Eskom te keer om beurtkrag in te stel. Cilliers het gesê die meeste aansoeke teen Eskom was tot nou toe op prosesregtelike aspekte gegrond waarvan die meeste suksesvol was. Eskom volg egter nou die korrekte proses en dit is daarom noodsaaklik dat ’n permanente oplossing gevind moet word.
Eskom het die kennisgewing in Die Pos se uitgawe van Vrydag 11 Mei geplaas, waarin die publiek genooi is om tot Maandag 11 Junie beswaar te maak.

Daarna sal Eskom finaal besluit of die krag vanaf Vrydag 29 Junie onderbreek word. “Daarom is dit van uiterste belang dat elke individu, organisasie, huiseienaarsverenigings, aftree-oorde, ouetehuise, skole en sake-eienaars hul besware moet indien,” het Van As sakelui aangemoedig.

Die krag sal tydens die eerste week van 06:00 tot 09:00 en van 17:00 tot 20:30 afgeskakel word en oor naweke van 08:30 tot 12:00 en van 15:00 tot 19:00. Tydens die tweede week sal die krag heel week van 06:00 tot 20:00 (14 uur per dag) af wees.

“Dit sal ’n verwoestende uitwerking op talle van ons ondernemings hê — groot en klein. Werksverliese kan volg,” het Wiets Botes, voorsitter van die sakekamer, gesê. “Inwoners sal uitgawes moet aangaan om kos voor te berei en lig in hul huise te hê.”

Die sakekamer beraam dat die voorgenome regsaksie uiteindelik in die omgewing van R500 000 sal kos. Hierdie proses kan net voortgesit word indien die sakekamer bystand uit die gemeenskap ontvang. “Dit klink na ’n reusebedrag, maar as net 2 000 mense elk R100 vir drie maande kan bydra, sal dit meer as voldoende wees,” het Botes bygevoeg.

Onlangse nasionale beriggewing oor Kgetlengrivier Plaaslike Munisipaliteit (Koster en Swartruggens) wat ’n tussentydse interdik teen Eskom verkry het om kragonderbrekings te verhoed, het volgens Botes verwarring geskep. “Die hofbevel verander niks aan ons situasie nie. Dit het net op daardie munisipaliteit betrekking en is soortgelyk aan die proses wat die sakekamer in Maart vanjaar suksesvol gevolg het. Die Koster-saak is nog nie ’n finale bevel teen Eskom nie en die sakekamer se beplande aksie strek ook verder as dié van Koster.

“Ons vra dat almal bydra tot die regskoste, al is dit nie groot bedrae nie,” het hy gevra. Die sakekamer moet die regspan so gou moontlik toestemming gee om voort te gaan sodat die proses kan begin.

Donasies kan direk aan die sakekamer gemaak word: Waterberg Sakekamer, FNB Modimolle takkode 260-247, tjekrekening 62360638814, met die verwysing “Eskom Regs” of direk in die prokureurs se trustrekening gedeponeer word: Cilliers & Reynders Ing, Absa Besigheidsbank, rekeningnommer 40-5250-0737, takkode 632005, verwysing MAT 32720.

Vir meer inligting of om by te dra, bel vir Botes by tel. 083 501 0079, Jan Koelewyn by tel. 082 873 7678 of Gerhardt Breytenbach by tel. 083 325 7428.
’n Voorbeeld van hoe die beswaar aan Eskom moet lyk, is op die sake-kamer se webwerf by die adres www.waterbergsake.co.za beskikbaar.

Besware kan tot op Maandag 11 Junie gestuur word aan LPExecActionTeam@eskom.co.za of gepos word aan Eskom Holdings, privaatsak x9477, Polokwane, 0700.


For free daily local news in the Waterberg, visit Die Pos/The Post.

Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages. You can also email our offices on diepos@icon.co.za or dieposnuus@icon.co.za


 

Related Articles

Back to top button