Local newsNews

Modimolle-vullisterrein ’n groot gemors

Modimolle se stortingsterrein is al jare lank ’n kopseer en gesondheidsgevaar vir nabygeleë inwoners.

Die stortingsterrein in Modimolle, wat jare lank al ’n kopseer en gesondheidsgevaar vir omliggende inwoners is, se toestand hou aan vererger.

Vullis lê wyd verspreid sonder dat dit toegegooi word.

Dit veroorsaak dat plastieksakke die wêreld vol waai. Volgens een van die werknemers by die terrein is die grondverskuiwingsmasjienerie wat dit gewoonlik doen, buite werking. Mense wat glo op die terrein onder plastiekskerms bly, krap oral in die vullis rond.

Etlike sinkhuise van die informele nedersetting wat verlede jaar langs die stortingsterrein opgerig is, is enkele meter van die stortingsterrein af geleë.

Die Pos het in die verlede berig dat inwoners van die aangrensende uitbreiding 10 van Phagameng sê dat die stortingsterrein hul gesondheid benadeel weens die stank en die aanhoudende brande wat dikwels ’n rookwolk oor die gebied laat lê.

Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, het by navraag gesê die munisipaliteit het die lisensie vir die sluiting van dié terrein en die opening van die nuwe herwinningsterrein in die Drie Hekke-omgewing in Januarie vanjaar ontvang.

“Die oprigting van die nuwe terrein sal nou in die 2018/2019-boekjaar begin.

“Die terrein sal omhein word en ’n waghuis hê. Ons verwag dat die nuwe terrein teen einde 2019 voltooi sal wees,” het sy gesê.

“’n Plan is reeds opgetrek vir die sluiting en om die bestaande terrein te rehabiliteer en in ’n geïntegreerde ontspanningsterrein te omskep.

“Die munisipaliteit het nie grond beskikbaar in Mabatleng in Vaalwater vir ’n nuwe stortingsterrein nie.

“Die huidige terrein daar sal omskep word in ’n sorteringsfasiliteit vanwaar die vullis na die nuwe terrein in Modimolle gestuur sal word en in houers gehou word vir verdere herwinning,” het Van Staden aan Die Pos verduidelik.


For free daily local news in the Waterberg, visit Die Pos/The Post.

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages. You can also email our offices on diepos@icon.co.za or dieposnuus@icon.co.za


 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button