Local newsNews

Eienaar geskok ná gesteelde hond se ore afgesny is

Die eienaar van 'n hond wie se ore afgesny is, het besluit om nie ’n klag by die polisie in te dien nie.

In ’n skokkende voorval is ’n gesteelde jong hond waarvan die ore afgesny is, met sy eienaar van Modimolle verenig.

Die goedversorgde jong terriër-kruising is glo gedurende die dag by sy eienaar se huis in Phagameng gesteel. Met sy tuiskoms het die man glo na sy hond begin soek en op die dier se halsband by ’n nabygeleë huis afgekom. Hy het die jong mans by die huis gekonfronteer en kon sodoende sy hond terugvind, maar die dier se ore was reeds kort afgesny, het Cheryl Oosthuysen van die Kranskop-dierekliniek aan Die Pos gesê. Die hond is daarheen geneem vir behandeling.

“Nadat die man met die jong mans se pa onderhandel het, het hy besluit om nie ’n klag by die polisie in te dien nie,” het Oosthuysen gesê.

Sy het gesê dat hulle bekommerd was dat die hond vir hondegevegte gebruik sou word.

Die eienaar se naam word weerhou.

Honde wat in gevegte gebruik word se ore en sterte word dikwels kort gesny om hul opponent minder plek te gee om vas te byt, volgens die American Society for Prevention Against Animals se webwerf.

Marcelle Maritz, bestuurder van die dierebeskermingsvereniging in Mokopane, het bevestig dat die voorval by hulle aangemeld is. “Ons het ook die koste vir die hond se behandeling gedra,” het sy gesê. “Gevalle wat verband hou met hondegevegte word dikwels by ons aangemeld.”


For free daily local news in the Waterberg, visit Die Pos/The Post.

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages. You can also email our offices on diepos@icon.co.za or dieposnuus@icon.co.za


 

Related Articles

Back to top button