News

Botsing eis oud-onderhoofseun

’n Kop-aan-kop botsing tussen ’n bakkie en ’n minibus het vier lewens geëis en ’n jong vrou s’n ingrypend verander.

Odette Pohl (22) en Lourens Kruger (26) is ernstig beseer in ’n ongeluk wat Saterdagaand, 28 September op die R518 tussen Mokopane en Zebediela plaasgevind het. Die Isuzu-bakkie waarin hulle gereis het, was in ’n botsing met ’n Hyundai-minibus betrokke.

Al die beseerdes is na die Voortrekker-hospitaal in Mokopane geneem, maar hul beserings was so ernstig dat hulle na ander hospitale oorgeplaas is.

Lourens is ná die ongeluk na ’n hospitaal in Pretoria gehaas en Odette is in die Tzaneen MediClinic opgeneem. Lourens, wat in 2016 die onderhoofseun van Hoërskool Piet Potgieter in Mokopane was, is op Saterdag, 5 Oktober in die hospitaal oorlede. Lourens en Odette was reeds ’n paar maande in ’n verhouding. Lourens, die seun van Jan en Irene Kruger, het op die plaas

Modderfontein tussen Zebediela en Mokopane geboer en Odette werk in Mokopane by die Limpopo Chef’s Academy.
Odette se ma, Corné het vertel haar dogter het reeds ’n maagoperasie ondergaan.

“Die dokter wat haar geopereer het, het haar lewe gered,” het sy gesê.

Sy is op Maandagmiddag, 7 Oktober geopereer om die patella in haar knie te herstel. “Beide haar arms en haar hakke en enkels is gebreek. So ook haar tande, maar ons is nog nie seker van die skade aan haar kakebeen en gesig nie.

Odette is die volgende dag vir die derde keer teater toe. Sy het veelvuldige frakture aan beide hakke, haar knie, skouer en elmboog opgedoen, asook ernstige beserings aan haar mond. Sy is behandel vir inwendige bloeding.

Sy was in daardie stadium onder verdowing, maar haar toestand was stabiel.

“Alles wat lewensbedreigend is, is met genade hanteer. Daar lê nog ’n lang pad vir Odette voor met talle operasies wat in die toekoms gedoen moet word,” het Corné gesê.

“Ons is so dankbaar vir die gemeenskappe in Mookgophong, Mokopane en Tzaneen, asook ons families. Ons is verstom oor die hulp en ondersteuning wat ons ontvang het om ons arms omhoog te hou.”

Odette se familie samel fondse in om die hospitaalkoste te dek, aangesien sy in ’n drie maande wagtydperk is nadat sy van mediesefonds verander het.

Die Limpopo Chef’s Academy verkoop kaartjies vir ’n gelukstrekking. Lodges in die omgewing het ook hul gewig agter die fondsinsameling gegooi en hou tot Vrydag, 11 Oktober ’n loting waar die wenner ’n rooibok kan wen.

Skakel Sumari Prinsloo by tel. 082 221 6436 om die fondsinsameling te ondersteun.

•Volgens Tidimalo Chuene, skakelpersoon van die departement van vervoer, is drie manlike passasiers in die minibus oorlede en het die bestuurder ernstige beserings opgedoen.

Daar is nie meer inligting bekend oor die passasiers van die minibus nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button