EntertainmentLifestyleLocal LifestyleNewsSportSport

Rolbalspelers van heinde en verre speel saam

Die Warmbad Rolbalklub in Van Stadenstraat, Bela-Bela, wat gereken word as een van die bes toegeruste klubs in Suid-Afrika, was dié afgelope naweek ’n miernes van bedrywigheid.

Die belofte van rolbal uit-die-boonste-rakke, het spelers van heinde en verre hier laat byeenkom.

Die spelers van verskeie klubs in Pretoria, Rustenburg, Benoni, Modimolle en Mooinooi het op Saterdag, 5 Oktober in die Aalwyn-toernooi teen plaaslike spelers te staan gekom.

Die toernooi het met 60-spelers sterk kompetisie gebied. Die pragtige klubhuis het gesorg dat ondersteuners en spelers die innerlike kon versterk. Daar is tot laat gesellig saamgekuier.

Die toernooi het vroeg Saterdagoggend afgeskop en spelers het van meet af aan begin punte versamel.

Die algehele wenners van die toernooi was Jonty Rhodes, Jaco Kleynhans en Fanie Maree van Groenkloof-klub in Pretoria.

Fanie Maree is aangewys as speler (lead) van die toernooi.

Faan Rossouw, voorsitter van Warmbad Rolbalklub, het inwoners genooi om hulself te kom vergewis van die goeie sportmangees wat by die klub heers.

Die Covid-19-pandemie het hul ledetal ernstig geknou, maar stadig maar seker groei hul weer.

Hulle wil graag nóg jong spelers betrek om die voortbestaan van die klub te verseker. Die lede oefen Maandae en Woensdae en speel Saterdae wedstryde.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button