Local newsNews

Tekorte aan teengif wek kommer

Tans gaan Suid-Afrika gebuk onder ’n ernstige tekort aan slangteengif en dit kan groot probleme veroorsaak.

Die hoof uitvoerende beampte van die Afrika Slangbyt Instituut (ASI), Johan Marais, beskou die situasie as kommerwekkend.

Marais sê dat slangteengif behandeling die enigste effektiewe manier is om ernstige slangbyte te behandel.

Hy voeg by dat dit nie net gaan oor menselewens nie, maar ook dat ernstige weefselskade kan voorkom word, as die persoon deur pofadders en Mosambiekse spoegkobras gebyt word. Hy het bygevoeg dat indien teengif nie onmiddellik toegedien kan word nie, verklein die venster van oorlewing.

“Indien jy deur ’n boomslang, pofadder of Mosambiekse spoegkobra gebyt word, is daar min wat ’n mediese praktisyn vir jou kan doen as hul nie die nodige teengif het nie. Die pasiënt sal waarskynlik sterf in ’n boomslang byt as daar nie dadelik teengif toegedien word nie.”

Dokters en hospitale is egter nie die enigste mediese dienste wat ernstige tekorte ondervind nie. Marais sê dat veeartse ’n nog groter probleem in die gesig staar, aangesien hulle al die afgelope drie jaar spook om teengif in die hande te kry.

Hulle moes al talle troeteldiereienaars in die oë kyk, terwyl hulle niks kon doen om hul diere te red nie.

Op navraag van Die Pos, het dr. Pierre Bester van Warmbad Dierekliniek bevestig dat dit moeilik is om plaaslik slangteengif te bekom. Sy praktyk se voorraad is nie na wense nie, maar hulle het onlangs ’n kontrak gesluit met Imperial Market Access Healthcare SA (IMAHSA) om slangteengif in te voer.

Bester sê die grootste hoeveelheid slangbyte wat plaaslik voorkom, is die van mambas en pofadders.

Chris Oosthuizen, besturende direkteur van IMAHSA het aan Die Pos vertel dat hulle teengif vanaf Indië invoer onder Artikel 21. Die produk is deeglik getoets en is bestand teen hoë temperature, wat die produk se rakleeftyd verleng. Dit maak die produk baie geskik vir Suid-Afrikaanse toestande.

Hy sê dat SAHPRA, die Suid-Afrikaanse Gesondheidsprodukte-reguleringsowerheid grootskaalse invoer van benodigde produkte kan goedkeur in tye van nood.

Mediese praktisyns, hospitale en veeartse wat van die produkte benodig, kan volgens Artikel 21van die Wet op Medisyne en Verwante Stowwe van 1965 (wet 101 van1965) aansoek doen om die teengif, wat ’n ongeregistreerde mediese produk is, te bekom.

Volgens Oosthuizen is die enigste wesenlike probleem, die tekort aan teengif vir boomslange wat tans baie skaars is en slegs beperkte voorraad van die buiteland kan bekom.

Die tekort aan plaaslik vervaardigde slang teengif, spruit uit die Suid-Afrikaanse Inentings Produsente Laboratorium (SAVP) se onvermoë om teengif te vervaardig.

Hul vaardighede, toerusting en vermoë is tans glad nie op standaard nie en dit terwyl hulle in die 1990’s die voorste vervaardiger van slangteengif in Afrika was.

Teen druktyd het die SAVP nog geen navrae vanaf Die Pos beantwoord nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button