News

Vandale ontsier die dorp

Inwoners van Bela-Bela is die josie in nadat ’n onbekende aantal vandale weereens die strate ingevaar het met hul spuitverf en talle huise se sekuriteitsmure en sakeondernemings se advertensieborde het deurgeloop.

Die munisipaliteit se elektrisiteitkaste het ook nie ongeskonde gebly nie.

Dit is nie die eerste keer wat die dorp deurloop onder die booswigte se vernielsugtigheid nie. Eiendomme wat onder andere geraak is deur hierdie vernielsugtigheid is in Gilfillan- en Reitzstraat en sakeondernemings in Pretoriaweg het ook skade aangemeld.

Volgens veiligheidsgroepe in die dorp, is hul seker dat jong kinders hiervoor verantwoordelik is, want dit is telkemale net wanneer die skole sluit en hul verveeld is, wat hul sulke kattekwaad aanvang.

Wat gewoonlik hiermee gepaard gaan is dat straatnaamborde verniel word. Hul het ook aangedui dat hul deur beeldmateriaal van sekuriteitskameras werk van verskillende wonings en hul die kwajongens binnekort gaan vastrap.

Vir die oortreders mag dit wel ‘n ‘pret’ ervaring wees, maar hulle hou glad nie tred met die ontsaglike kostes wat hul wandade tot gevolg het nie. Hierdie graffiti wat aangebring word, is glad nie ’n kunsvorm, of verfraaiing nie.

Dit is onooglik en smakeloos en dien geen konstruktiewe doel nie. As hierdie tipe vandalisme enigsins die oortreder se intellek weerspieël moet daar ernstige kommer wees oor wat die toekoms vir hulle inhou.

Uit die skrif blyk dit wel of daar moontlik twee booswigte betrokke is wat groen en wit spuitverf byderhand gehad het.

Die aanbring van enige ongevraagde verf op mure, enige heinings, geboue, advertensieborde of privaat eiendom kom neer op opsetlike saakbeskadiging.

Lesers word versoek om voorvalle of kennis en identiteit van oortreders onmiddellik aan die SAPD, gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) of hul privaat sekuriteitsondernemings te rapporteer sodat die oortreders aangekeer kan word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button