CrimeLocal newsNews

Kerke en skole geteiken

Inwoners het met wrewel verneem van die Nuwe Lewe Aanbiddingsentrum in Num-Numstraat, Bela-Bela wat die afgelope tyd die teiken van verskeie kriminele optredes was.

Die eerste voorval het op Donderdag, 19 September plaasgevind toe ’n booswig al die koper deurhandvatsels en ligskakelaars gesteel het. Dit blyk of dieselfde booswig op Woensdag, 25 September teruggekeer het en die laaste koper wat nog beskikbaar was ook verwyder het.

In ’n afsonderlike voorval, het booswigte gedurende die langnaweek van 20-24 September toegang verkry tot die Nuwe Lewe Kinderland-kleuterskool in Apiesdoringlaan.

Daar is toegang verkry deur ’n venster aan die agterkant van die perseel.

Volgens Istvan Dippenaar van die Aanbiddingsentrum, blyk dit uit die spore op die toneel, of daar twee verdagtes betrokke was by die voorval.

Die hout stoor se slot is ook afgeslaan. Daar is ’n groot hoeveelheid kosvoorraad en die gasbottels gebuit. Dit blyk asof die booswigte die yskaste ook wou steel, aangesien hulle ontkoppel is en uitgeskuif was. Die yskaste is egter net daar gelaat.

Die verdagtes moes ’n voertuig gehad het, want hulle het hul tyd geneem en het rustig op een van die rusbanke gesit en rook.

Dit was ook nie die eerste voorval van by Kinderland nie. ’n Soortgelyke voorval het ook in Februarie daar plaasgevind.

Volgens die modus operandi kan dit moontlik dieselfde verdagtes wees. Dippenaar het bevestig dat die voorval by die SAPD aangemeld is.

Hierdie insident hou moontlik verband met ’n voorval by Soaring Eagles-kleuterskool in Meiningerstraat (oorkant die ou St. Vincent-hospitaal) wat ook gedurende die naweek op dieselfde wyse onder diewe deurgeloop het.

Riana Strachan van dié skool sê dat daar al voorheen by Soaring Eagels ingebreek is, maar dit is die eerste keer dat daar soveel gesteel is en soveel skade aangerig is.

Dit is duidelik dat die booswigte hier ook heelwat tyd gehad het om hul misdaad te pleeg.

Hulle het selfs broodjies geëet en melk gedrink in haar kantoor. Hulle het letterlik alles gesteel wat by ’n muurprop ingedruk kan word, selfs haar voorafbetaalde kragmeter.

Alles van waarde is geneem en daar is waarskynlik ook gepoog om hul groot yskaste te steel aangesien hulle ook ontkoppel was en in die middel van die vertrek ingeskuif is.

Ook hier is die gasbottels en die kosvoorraad gebuit. Die skool se twee industriële drukkers het ook in die slag gebly.

Al die sekuriteitskameras is ook uit die muur geruk. Dit wil voorkom of die booswigte op Maandag oggend, 23 September teruggekeer het, om die data stoor module van die kameras te steel, aangesien dit eers om 10:00 op die betrokke dag opgehou opneem het. Strachan sê dat die inbraak hulle ongeveer R40 000 uit die sak gaan jaag.

In nog ’n voorval het die skriba van die Gereformeerde Kerk in Oostuizenstraat, Christo Jansen van Vuuren, bevestig dat ’n verdagte op Dinsdag, 24 September, koper-waterpype by die kerk gesteel en nagenoeg R3 000 se skade daar aangerig het.

Istvan Dippenaar het gemeld dat hulle nou oorweeg om palissade-heining om die kerk op te rig en versoek enige iemand wat skenkings in die verband kan maak, om hom asseblief te kontak by die kerk of bel Annelien Dippenaar by tel. 076 655 8685.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button