EntertainmentLifestyleLocal newsNews

Knipmesbraai: klein gemeente groot fees en gees

’n Duisend manne het met hul skoene in die rooigrond se stof en die reuk van spitbraai wat in die lug hang, heerlik op Roedtan gekuier.

Die Hervormde Kerk Roedtan-gemeente op die Springbokvlakte se sesde jaarlikse knipmesbraai was vanjaar weereens ’n groot sukses. Dié jaarlikse instelling het verlede jaar groot aandag op sosiale media getrek toe groot stropers ingespan is om skape te spitbraai.

Vanjaar is daar veertig skape op die spit gaargemaak en tien varke.

“Die ou stroper met sy Frankfort-registrasienommer wat omgebou is om die skape te spitbraai, het vanjaar weer geloop en nege van die skape is daarop gebraai.

Die stroper word ook deur die APK-gemeente gebruik vir hulle jaarlikse skaapkopete,” het Hendrik Botha gesê.

“Ons is baie geseënd dat die funksie so ’n groot sukses is. Ons is maar net veertig lidmate in die gemeente, maar almal op die dorp spring in om hand by te sit. Dit is ’n groot byeenkoms vir Roedtan.

Die kaartjies was reeds twee maande voor die tyd uitverkoop en ons het nog tot op die dag navrae ontvang van gaste wat wil kom deel in die vreugde. Ons het besluit om dit nie groter as ’n duisend mense te maak nie, want ons het net soveel hande om dit aan te pak,” het hy gesê.

“Die dorp is in ’n unieke situasie. Ons is klein, maar ons is naby aan drie groot dorpe, Mokopane, Mookgophong en Marble Hall geleë en elkeen het groot ondernemings wat ons ondersteun met borgskappe. Ons is dankbaar vir die inkomste wat ons hieruit verdien, want ons kan dit terugploeg in die gemeente en die groter gemeenskap.

Ons maak ook skenkings aan die ouetehuise op die groter dorpe en ondersteun behoeftige gesinne in ons omgewing,” het hy gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button