Alles in ’n oogwink deur brand verswelg

Vuur is gewoonlik vernietigend, maar wanneer ’n vuur iemand se woning met alles wat daarin is in puin lê, dan raak dit ’n persoonlike tragedie.

Dit is presies die situasie waarin Jacqueline Botes van Bela-Bela haar tans bevind.

’n Verwoestende brand het haar woonstel op Bospoort, Woensdagaand 11 September, verswelg.

Alles wat sy besit het, is binne minute tot as verbrand. Botes is baie dankbaar dat haar geliefde hond, Bibi, by haar was tydens die voorval en nie alleen by die huis nie.

Sy het die betrokke aand by haar suster gekuier in Bospoort Vallei, wat loop afstand van haar woning is.

Sy en haar suster, Jennifer Botes, het die aand teruggestap na haar woonstel toe sy die rook en ’n gloed gewaar.

Sy het onmiddellik besef daar is fout en het na haar woonstel gehardloop wat sy huur op die plot van die Pelsers.
Met Botes se aankoms op die perseel was haar woonstel in ligte laaie en daar was talle mense wat gepoog het om die vuur te blus.

Sy moes hulpeloos toekyk hoe die bietjie wat sy het, deur die vlamme verteer word. Die woonstel het totaal uitgebrand.

Sy is gewoond aan swaarkry en die bietjie besittings wat sy gehad het, het sy met baie moeite bymekaar gemaak, nou is daar niks meer oor nie, behalwe Bibi, die hond wat haar getroue metgesel is.

Botes was vir ongeveer ses maande werkloos en erken dat daar nie veel vooruitsigte vir haar is sonder matriek nie.

Sy het onlangs ’n aanstelling gekry en sal op Dinsdag, 1 Oktober inval by haar nuwe werk.

In die een slaapkamer woonstel wat weldoeners vir haar gereël het, sit sy op een van die twee stoele in die andersins leë vertrek, met Bibi op haar skoot.

Sy sê die hondjie is steeds getraumatiseer en is selfs bietjie depressief nadat hul lewe so ingrypend verander het.

Sy is baie dank verskuldig aan die weldoeners wat vir haar klere en toiletware voorsien het.

Om kos te kry vir haar en Bibi is tans ’n uitdaging, maar weet dit sal beter gaan as sy eers begin werk.

Sy is ook dankbaar vir haar vriend, JR Nagel wat haar bystaan in die moeilike tye.

Die oorsaak van die vuur is nog onbekend. Dit wil voorkom asof daar ’n elektriese kortsluiting was, maar die ondersoek duur voort.

Al is haar omstandighede nou baie moeilik, bly Botes positief.

Sy is baie dankbaar vir al die mense wat hul harte vir haar oopgemaak het.

Sy het al baie foute in haar lewe gemaak, maar glo dat sy hierdie beproewing sal oorkom.

Sy glo die Here sal voorsien.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button