News

Terapiehond kuier by Sonstraal Tehuis

Elke hond kry sy dag - ook ’n wollerige plaashondjie met ’n baie groot hart.

Taffy, ’n Yorkie- en Malteserkruising, is ’n nuwe lid van die Pets as Therapy-span (PAT) wat as terapiehonde by die Kokanje-aftreeoord in Modimolle werk.

Sy het, saam met haar eienaar Elrita Roos, verlede week die Sonstraal Tehuis vir gestremdes vir die eerste keer besoek.

Die aankoms van die viervoetige vriend het dadelik die inwoners se aandag getrek waar hulle rustig onder die koeltebome gesit het. Taffy het om die beurt by elkeen van die vier inwoners gekuier en of op hul skote gesit vir ’n vryf of langsaan gestaan sodat hulle haar mooi kon deurkyk.

Die besoek was ook ’n leergeleentheid vir Taffy, wat gou gesnap het wat haar rol is. Sy woon op ’n plaas in die Tuinplaas-omgewing en aanvanklik was die dorpsgeluide effe vreemd. Na ’n rukkie se rondsnuffel het sy haar aandag by die Sonstralers bepaal en breë glimlagte by elkeen uitgelok.

Die plaaslike PAT-tak is onlangs begin deur Denise Prinsloo wat in Kokanje woon.

Sy het vroeër aan Die Pos vertel dat baie van die verswakte inwoners in die aftreeoord hul lewe lank diereliefhebbers was, maar nou glad nie meer met diere te doen het nie.

“Ek wou die geleentheid skep dat bejaarde en verswakte inwoners, wat meestal tot hul kamers beperk is, die kans het om weer tyd saam met ’n hond te spandeer,” het Prinsloo gesê.

Daar is verskeie studies wat bevind het dat mense wat tyd saam met besoekende terapiediere spandeer, beter kommunikeer, rustiger is en nie gou angstig raak nie, hul bloeddruk laer is en hul selfbeeld ook verbeter. Baie verswakte bejaardes kommunikeer moeilik, maar ’n terapiehond het nie veel woorde nodig om liefde te gee nie.

Die plaaslike PAT-tak bestaan, benewens Taffy, uit Ozzie, Murphy (beide Jack Russel-kruisings) en Tiger wat ook ’n kruisras is. Voordat die honde kan begin diens doen, moet hul eers ge-evalueer word deur PAT, wat ook hul eienaars leiding gee hoe om hulle te hanteer. Hulle besoek die Kokanje-oord een keer ’n week.

“Ons wil graag meer honde hê wat diens doen, sodat ons die wat reeds deel is, nie te hard laat werk nie en gereeld mense kan besoek,” het Prinsloo gesê.

Die PAT-vrywilligers offer hul tyd op om mense in tehuise, skole en ander instansies te besoek. Die honde word vooraf geassesseer om hul geskiktheid vir die werk te bepaal.

Die vereistes is dat hulle ’n vriendelike en kalm geaardheid het, gesond en goed versorg is en die belangrikste: mal is daaroor om liefde te gee en te kry.

Roos het besluit om aan te sluit by die groep, nadat ’n vriendin deur ’n terapiehond besoek is by ’n sentrum.

“Sy het vertel hoe goed die hond se kuiertjie haar gemoed gedoen het. My ma het onlangs chemoterapie ontvang en is ook in die hospitaal deur ’n terapiehond besoek. Ek kon die verskil sien wat die honde se besoeke aan hul gemoedere gedoen het,” het sy vertel. “

Ek sou graag ’n Labrador wou gehad het om op te lei as terapiehond, maar het besluit Taffy, my plaashondjie, sal dit kan baasraak.”

Taffy se klein lyfie maak dit makliker om op ’n bed of op iemand se skoot te sit.

Vir meer inligting oor PAT se projekte of om aan te sluit, skakel Prinsloo by tel. 082 968 9402

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button